’n Hewige nies trek baie verder as net tot by die persoon wat langs jou sit. Erger nog - ’n nies het die potensiaal om in die lug te bly hang en ’n luggedraagde siekte te veroorsaak.
Wanneer iemand hewig nies of hoes, stel hy ’n gaswolk vol vloeistof of druppeltjies vry. Vorige wetenskaplike bevindings dui daarop dat klein druppeltjies nie so ver trek soos groot druppels (wat ook tydens ’n nies vrygestel word) nie, aangesien ’n groter druppel beteken dat daar meer momentum is. Dit is egter nie wat navorsers bevind het nie.
Hulle het bevind dat klein druppeltjies tot 200 keer verder as groter druppels trek (dink sentimeter teenoor meter) - en hulle kan onbepaald in die lug bly sweef. Sou hierdie druppeltjies byvoorbeeld naby ’n lugversorger sweef, kan dit van gebou tot gebou trek.
Jy kan siek word sonder dat jy noodwendig met die gasheer in aanraking kom. Alle niese is egter nie eenders nie. Selfs wanneer jy uitasem, stel jy ’n gaswolk klein druppeltjies vry. Die probleem kom voor wanneer daardie gas patogene van ’n virus - of bakteriële infeksie bevat.
Wanneer jy siek is, onthou om jou mond en neus met ’n snesie te bedek. Geen snesie nie? Nies of hoes in die krom-
ming van jou elmboog, nie in jou hande nie. Wanneer jy in jou elmboog nies, kan jy die wolk opbreek en die aantal druppeltjies verdeel sodat hulle nie so ver trek nie.