Gansbaai: Tussen Land en See - Koeel Kalante


Die plaashuis op Panoroma, bokant Franskraal, het ‘n veelbewoë geskiedenis sedert dit in omtrent 1946 daar gebou is deur ‘n kommandant Fourie, wat ‘n Spitfire-loods in die oorlog was. Na sy dood is die huis deur ‘n bont verskendheid huurders bewoon. Dis tans ‘n restaurant, maar een van die kleurryke huurders aldaar was Hennie S, ‘n visserman, wat met sy gawe vrou en paar oulike kinders daar gebly het.

Hennie en sy swaer sit een Sondagmiddag op Panorama se agterstoep, Ek wat langs woon, was ook die naweek daar doenig om my huis.

Skielik klap daar ‘n skoot en die koeël trek ongemaklik na aan my verby, bergop. Ek stap toe teen helling op na my groen 2 500L  watertenk en ontdek ‘n netjiese gaatjie waaruit ‘n straaltjie water spuit, deur sy sy geskiet.

Ek wou nie op die oomblik vir Hennie gaan aanspreek nie, want ‘n mens weet nooit of jy dalk sy stoere Voortrekkergees met onverkwiklike gevolge kan ontstel nie.

‘n Week of wat later besluit ek om die tenk (teen dié tyd leeg), te lap en dan sommer bietjie skoon te maak. Ek laat sak myself met besem en tuinslang deur die mangat in die tenk en skrop hom mooi skoon.

Nou wou ek uit, maar toe ek die rand van  die mangat vasvat om myself op te trek, kom ek agter dat my elmboë nou noodgedwonge te ver weerskante toe uitsteek om my deur te laat. Ek was, kortweg, gevang soos ‘n rot in ‘n val en bowendien alleen op die plaas sonder selfoon.

Wat nou? Terwyl ek onder in die tenk sit en dink of ek die ding moet laat omkantel en dan bergaf daarin rol tot waar ook al, daag dit skielik by my op dat dit weer Sondag is, en dat Hennie en sy swaer miskien weerop op die stoep sal sit en drink.

Skielik verky my begeerte om uit te kom nuwe dringendheid. Ek gaan staan toe, ten einde raad en na baie probeerslae, reg onder die mangat, sak af op my hurke en spring, arms na bo gestrek, soos ‘n kaartman lyflik deur die gat, deur die genade net hoog genoeg om my elmboë verby die rand te kry.

Daar hang ek toe, boarms nerf-af, maar darem halflyf uit en gered; ek miskien van hongersnood en Hennie dalk van manslag…