Tevrede nuwe Intrekkers

Die eerste “nuwelinge” van Elim se Gansbaai Huis (Dagsorg) in Kerkstraat (langs Gansbaai Superspar) het op Maandag, 22 September 2014 ingetrek. Gansbaai Superspar het gesorg vir ‘n yslike verwelkomingskoek.

Die Gansbaai Huis is op Saterdag, 23 Augustus 2014 amptelik tydens ‘n prestige-geleentheid geopen. Daar bestaan egter steeds bepaalde behoeftes vir die 17 kinders, soos veral toiletware en kruideniersware of enige ander vorm van ondersteuning. Past Frikkie Zeelie is voluit betrokke en tree ook op as die koördineerder van donasies en skenkings in Gansbaai. Hy kan by 082-498-6992 geskakel word. Belangstellendes vanuit die gemeenskap wat daar wil gaan “inloer”, is welkom gedurende weeksdae vanaf 10:30 tot 11.30. Nog ‘n persoon wat ‘n enorme rol in die verkryging van die huis gespeel het, is Ewald Langeveld van Gansbaai Aida.

“Die huis was onbewoonbaar, verniel en beskadig en daar was ‘n enorme hoë verband uitstaande, asook ‘n baie groot bedrag aan agterstallige munisipale rekeninge,” vertel Ewald. Op versoek van Suster Lesinda Cunningham van Elim Huis, het Ewald met aanhoudende pogings begin om die huis vir hierdie projek teen ‘n billike bedrag beskikbaar te kry. Vele wipplankry-onderhandelinge met die betrokke bankgroep is sedert Desember 2013 deur Ewald gevoer, asook vele skriftelike versoeke met gereelde negatiewe antwoorde. Hy het hulle onder andere daarop gewys dat dit vir ‘n welsynsorganisasie is, wat bereid is om hulle offer kontant te betaal en ook onderneem om alle herstelwerk op hulself te neem.

“Met geen daadwerklike optrede gaan daar niks oorbly om te verkoop nie,”, het hy gemotiveer. Sy pleidooie het telkens op dowe “besigheids”-ore geval, maar Ewald het nie moed verloor nie. Hy het ‘n finale kontantaanbod opgetrek wat aanvaar is, met die wiele wat aan die rol gesit kon word.

Hardus Botha

‘n Deel van die kinders in die Gansbaai Huis wat nie kon wag vir die koek om gesny te word nie, met Joanne Swart wat Gansbaai Superspar se koek houvas. Die kinders se gesiggies word op die foto's verskuil om hul identitiet te beskerm.
Past Frikkie Zeelie wat as koördineerder van die Gansbaai Huis se behoeftes omsien