Die 163ste herdenking van die HMS Birkenhead Troepeskip is vanjaar weer deur Gansbaai Toerisme gereël en ‘n goed-georganiseerde program is op 25 en 26 Februarie 2015 suksesvol aangebied. Enkele afstammelinge van drenkelinge was ook teenwoordig.
Die verrigtinge het in die Great White House, Kleinbaai afgeskop. Die gewilde Mannekoor van die NG Kerk, onder leiding van Aletta Lochner en begeleier Annelene Reinke, het geopen met die sing van “O Vader in die Hemel Hoog”.
Die gassprekers was Gabriel Athiros van Historical Media Cc en John Gribble, Direkteur van Maritime Archaeology (SAHRA). Hulle het ‘n insiggewende en geïllustreerde aanbieding oor skeepswrakke aan die kus van die Kaap van Storms gelewer. Die bootritte die volgende oggend, met kransleggings ter see by die Birkenhead-rots, was weer eens ‘n belewenis.
Drie bote was vanjaar beskikbaar: Whale Whisperer (Dyer Island Cruises); Slashfin (Marine Dynamics); Ivanhoe (Ivanhoe Sea Safaris). Daarna was dit die gebruiklike Gedenkdiens by Dangerpoint, met verversings agterna.
Bedankings: Glenda Kitley en die Gansbaai Toerisme-span; Wilfred Chivell en Susan Visagie van Dyer Island Conservation Trust; Marine Dynamics; Dyer Island Cruises; Ivanhoe Sea Safaris; De Kelders B&B; Juanita Hage; Analo Yawa (Gansbaai Academia); ds Dennis Naidoo en ander sprekers.
Hardus Botha