Groen mannetjies op Internasionale Verpleegstersdag

Op die marmerblad neffens die wasbak in Dokters Van Zyl en Mangold se spreekkamer het ‘n langwerpige, vlekvrye staal houer gestaan.  Binne-in was ‘n vlak, verwyderbare  bakkie met gaatjies en aan die voorkant was knoppe om die elektrisiteit waarmee dit gewerk het, te reguleer. Klokslag om tienuur soggens en weer drie-uur in die middag het my ma dit gepak met spuite, naalde, tangetjies, skertjies en messies en dan is dit aangesit om die instrumente deur middel van ‘n kookproses te steriliseer. Na ‘n sekere tyd het sy dit, steeds kokend warm, daar uitgehaal met handskoene aan haar hande. Daardie handskoene het net aan ‘n tangetjie binne-in die kookwater geraak en die res van die instrumente is dan met die tangetjie uitgehaal. Soort by soort is op steriele, spierwit flennielappe geplaas, en goed toegevou voordat dit gesteriliseerde houers weggebêre is. Daardie middelste vertrek, waar alles wat grillerig was, gebeur het, het altyd skoon en vars geruik – na karbolsuur, het my ma verduidelik – omdat dit onmiddellik skoongemaak is nadat ‘n pasiënt by die deur uit is. Vir handewas het hulle net rooi Lifebouy seep gebruik. Behalwe die liggrys vloer, was alles spierwit, soos Mamma en die Dokters se uniforms. Die hele prentjie kan ek in een woord opsom: s-t-e-r-i-e-l. Maar dit was lank, lank gelede, toe die naaste hospitaal twee ure se ry ver was. Dit was ‘n voorreg om hierdie dinge te kon beleef en die voorbeeld te kon ondervind van die dissipline binne die arena van mediese versorging.

Juis as gevolg hiervan, word my hart onlangs gevul met ‘n diepe jammerte toe ek ‘n foto sien van ‘n gapende wond aan ‘n liggaam wat veroorsaak is deur ‘n sogenaamde hospitaalkiem. Binne die tydsbestek van tien maande is dit die derde geval waarvan ek in my klein wêreldjie kennis neem. Terselfdertyd word ek kwaad met die vertakkings van ‘n weerligstraal in ‘n hoëveldse donderstorm. Ek raak allerhande kante toe kwaad. Vir ongedissiplineerde verpleegpersoneel; vir dokters wat hulle skouers optrek; vir ‘n sisteem wat gebrekkige opleiding verskaf en vir hospitaalbesture wat niks weet van steriliteit nie. Bo en behalwe dit alles, hang my grootste vraagteken bo die teken van ‘n vorm waar die hospitaal gevrywaar word van enige eis na afloop van behandeling of verblyf. Hier is ‘n pasiënt met ‘n driemaande-lange wond wat lyk soos ‘n massiewe mond waarvan die lippe nie opmekaar kan kom nie, weens te veel botoks. Na ‘n paar narkoses om die vrot  vleis  (ja, dit is so walglik soos wat dit is) te verwyder, word die pasiënt ontslaan. Tydens ‘n opvolg besoek aan die hospitaal gee hulle die gerusstelling dat hulle niks beters kan doen as die tuisversorging wat die pasiënt ontvang nie. Hierdie monster moet maar net saam met die tyd van binne af genees, want dit reageer nie op enige antibiotika nie. Hospitaalkiem. Opgedoen in ‘n hospitaal, waar ‘n mens heen gaan om te genees. En dan het die hospitaal nie ‘n teenmiddel teen sy eie kieme nie en ‘n stuk papier dwing jou om hulle nie verantwoordelik te hou nie. Is dit nie die toppunt van ironie nie?

My ma in haar wit uniform, wat die instrumente gesteriliseer het in die wit middelste vertrek van ‘n klein plattelandse spreekkamer, het ‘n broertjie dood gehad aan lugreëlaars omdat sy geglo het dit versprei kieme. Vandag is dit ‘n integrale deel van enige hospitaal, om verskeie redes. Bykans elke afdeling van ‘n hospitaal vereis ‘n ander temperatuur- en humiditeitverstelling om spoedige herstel te bevorder. ‘n Hospitaal met ‘n stelsel sonder HEPA (High Efficiency Particulate Arresting) filters en ultra-violet ligeenhede, wat ‘n 99.97 suiwering van mikro-organismes en virusse belowe, het alreeds kieme aan sy hande.  Die MERV ( Minimum Efficiency Reporting Value) filters wat in residensiële lugreëlaars gebruik word,  is eenvoudig nie goed genoeg vir hospitale nie. Vir solank as wat die lugreëlaars in hospitale nie deur kundige mense gemonitor word sodat dit in alle omstandighede reg gebruik word nie en solank as wat dit nie optimaal in stand gehou word nie, behoort die vrywaring teen moontlike eise geskrap te word. Daardie groen mannetjies met die vet pensies en radartjies op hulle koppe is besig om amok te maak in ons hospitale. Iemand moet hulle keer. 

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1