Gansbaai Goue Hande en ander vrywilligers het op 9 Maart vanjaar Herberg-aan-See (HaS) se inwoners op ‘n interessante uitstappie “strate toe geneem”. En nie sommerso nie - hulle was behoorlik “opgesmuk” met blomme en veral blomme-hoede wat hulself gemaak het.
“Hierdie pret het reeds ‘n tyd vooraf plaasgevind toe hulle vir 2 Woensdae na mekaar hul naaldwerkvaardighede afgestof het,” vertel Ute de Milander. “Onder leiding van die stimmulasiegroep van Gansbaai Goue Hande het hulle blomme van materiaal gemaak met die oog op hul jaarlikse rolstoelstap op 9 Maart. Diegene wat nie kon stap nie, is deur gewillige helpers in rolstoele gestoot. Die verkeerspolisie het strate gesluit en almal het gestap tot bokant die hawe. Daar aangekom, kon die uitsig bewonder word, terwyl ‘n welkome koeldrank geniet is. Ná die ruskansie is die opdraende pad terug na HaS aangedurf. Daar het Linda Kloppers en haar span gesorg vir ‘n Gym-vertoning aan die inwoners.
Tipies van Gansbaai Goue Hande is die inwoners weer eens lekker bederf met vrugteslaai en roomys - beslis ‘n hoogtepunt vir die dag. Gansbaai Goue Hande bedank graag alle helpers, asook die Verskeersafdeling vir hul bystand.
Hardus Botha Collage Monica Hayes