Die Gansbaai Gedenkboek word Vrydagaand, 6 Mei 2016 amptelik tydens ‘n geselligheid bekendgestel. Hierdie kosbare kleinnood sal vanaf Maandag, 9 Mei 2016 beskikbaar wees en sal by Gansbaai Toerisme, Gansbaai Superspar en Gansbaai OK Foods te koop aangebied word.
Dit is ‘n pragtige Koffietafelboek en beslaan 420 bladsye, waarvan ‘n groot hoeveelheid in volkleur is. Dit kos ‘n skamele R300. Die eerste drukoplaag was 500 en voorverkope (bestellings wat reeds vooruit betaal is) is reeds meer as 300. Belangstellendes sal dus moet wikkel om te verseker dat dit nie neusie verby sal wees met hierdie drukoplaag se boeke nie. Daar kan dalk lank gewag word vir die volgende drukoplaag, wat ook duurder sal wees. Die behoefte aan ‘n boek oor Gansbaai se geskiedenis is reeds sowat 5 jaar gelede geïdentifiseer, maar heelparty struikelblokke moes eers uit die weg geruim word.
In Gansbaai Courant van Donderdag, 19 November 2015 berig die Gedenkboek Komitee dat die boek ‘n tipiese hardeband, koffietafel-tipe boek (formaat 290x200mm) sal wees. “In my bykans 71 jaar van bestaan was daar vele hoogtepunte wat ‘n groot invloed op my lewe gehad het. Een van hierdie hoogtepunte is die verwesentliking van hierdie boek,” het Pieter Scholtz, Voorsitter: Gedenkboek Komitee toe gesê.
Die skrywers, Jan en SD Fourie, het onder andere die volgende gesê: “Gansbaai se ontstaangeskiedenis is onlosmaaklik deel van sy hartklop - die visbedryf. Die gawe van die see wat die pioniervissers geklee, gevoed en vooruit laat beur het.”
Hardus Botha