Groot dinge gebeur by The Beauty Spot.
Nie alleen het Adrie Nigrini haar salon verskuif na ‘n groter perseel nie, maar is sy besig om ‘n nuwe skoonheidsterapeut op te lei.
The Beauty Spot, wat in ‘n kort tydjie gewild geraak het, kan nou by die nuwe perseel op die hoek van Hoof- en Rietstraat ook gesigbehandelings, haarverwydering en ander skoonheidspraktyke toepas waarvoor Adrie opgelei is.
Die grootste nuus is dat Adrie onlangs gekwalifiseer het as Paramediese Mikro-pigmentasie Grimeerpraktisyn. Sy verskuif die professionele sy van haar 12-jaar lange beroep as mikro-pigmentasie tegnikus nou na ‘n vlak waar sy baie nóú saam met mediese spesialiste werk. Hulle verwys pasiënte na Adrie vir die verwydering van littekens na operasies. Sy werk ook op vroue wat borsrekonstruksie ondergaan het na ‘n masektomie. Mense wat permanente haarverlies het, kan ook by haar kom aanklop vir hulp.
Uit die aard van die noue samewerking met medici, moes Adrie ook mediese terminologie onder die knie kry. Sy het twee weke gelede hierdie intensiewe leerproses ondergaan onder die ge-oefende oog van Yvonne Hughes – welbekend en hoog geag onder permanente grimeertegnici.
Dit was ook Yvonne wat Adrie in 2005 op dié gebied opgelei het. Met 12 jaar ondervinding in die kuns van tatoëring was Adrie meer as gereed vir ‘n hoër trappie in haar beroep. As opgeleide tandartsstoelassistent is sy nie onbekend met die mediese wêreld nie. Adrie is geregistreer by PCASA (Permanent Cosmetic Association of South Africa) en doen ook ‘micro blading’ en ‘micro needling’.
Nuweling
Barbara Vermeulen is die nuweling by The Beauty Spot. Na 12 jaar verblyf in Nederland, het sy en haar man hulle in De Kelders kom vestig, op soek na ‘n rustiger Suid-Afrikaanse lewenstyl.