Die Bietoubos Damesklub van De Kelders, Perlemoenbaai en Gansbaai het hul byeenkoms van 11 Julie 2017 effe aangepas ter wille van ‘n geliefde gemeenskapslid, Nellie Matthee se afsterwe op 4 Julie vanjaar.
“Ondanks die hartseer, was dit nie nodig vir die dames om sonder ‘n interessante aktiwiteit huis toe te gaan nie,” vertel Elizma de Lange van die klub. “Met ons Kersfees-in-die-winter tema het Anita Huisamen ‘n paar demonstrasies gegee van hoe ‘n mens engele vir ‘n Kersboom kan maak.”
Elizma vertel dat ‘n paar ander “menslike engele” vir smaaklike gevulde pannekoeke gesorg het en die Bietoubossers kon steeds gesellig saamkuier.
Die Bietoubossers se volgende byeenkoms is 12 September en Riaan Jacobs van Gansbaai Fotografieklub gaan sy fotografiekennis met die dames deel.
“Ervaar julle ook soms enersyds ‘n gevoel van magteloosheid of andersyds ‘n behoefte om sommer fisies èn geestelik te toi-toi by die aanhoor van al die negatiewe berigte oor rasse-haat, bedrog, korrupsie en magsbeheptheid?”, het Elizma in die klub se nuusbrief gevra, en sy haal Damian Lewis se woorde vir ‘n ander perspektief aan:
“Al wat jy moet probeer doen, is om eerbaar op te tree. As jy kan. Deurgaans.”