‘Harder Koning’ van Toeka se jare
-Chrisjan Vermeulen-
“My pa, Chrisjan Vermeulen, se besigheid het bestaan uit die koop van vis in Gansbaai by die vissermanne, wat hy weer verkoop het,” vertel Susan Butler (née Vermeulen) van Franskraal. “Hy het die hardertrek-besigheid in Gansbaai gekoop en vir baie jare bedryf. Susan sê ou Gansbaaiers sal dalk onthou dat Chrisjan destyds as die ‘Harder Koning’ bekendgestaan het.
Susan, ‘n gebore Gansbaaier, het bietjie gaan krap tussen haar ‘toeka-jare’ se albums en Gans-Berg Nuus vertel van haar pa Chrisjan wat in Stanford gebore is en ook grootgeword het. Die Vermeulens van destyds het as die ‘Krieke’ bekendgestaan. Chrisjan het baie jare vir die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (Transnet) as ‘n bouer gewerk en was later op sy eie ook vir baie jare ‘n bouer. Hulle huis in Gansbaai het hy laat bou waar Lekkerbek vandag is.
In 1926 het Chrisjan en Susan se ma, Susanna, in Lichtenburg verloof geraak (sien foto). Op die foto is dit duidelik dat Susan ‘n ‘afdruk’ van haar ma is! Daar is 6 seuns en 3 dogters uit die huwelik gebore, waarvan nog net 1 seun en Susan lewe. “Daar is baie kleinkinders, waarvan sommiges in Gansbaai woon, asook baie agterkleinkinders, maar vra my nie hoeveel nie!,” het Susan gesê. Sy vertel dat sy die laat lammetjie was en het as die ‘bederfde’ dogtertjie in die gesin bekendgestaan.
Susan sê haar ma was ‘n ‘Transvaler’ (Gautenger) van geboorte en dat sy altyd gesê het sy kan nie glo dat al 6 haar seuns vissermanne geword het nie. ‘n Uitstaande kenmerk van haar ma, wat mense verstom het, is dat sy op 86 nog nie ‘n enkele plooi op haar gesig gehad het nie. Tog was sy ‘n hardwerkende huisvrou wat onder andere al haar kinders, seuns en dogters, se klere self gemaak het. “Sy was ook baie musikaal en het altyd vroeg soggens op hulle traporreltjie by die venster gesit en geestelike liedere gespeel. “Soos mense vanaf Blompark daar verbygestap het, het hulle altyd eers gestaan en luister,” sê Susan.
Chrisjan was meganies goed aangelê en het net na ‘n motor se enjin geluister en dan geweet wat verkeerd is. “Ek het dit by hom geërf, want, glo dit of nie, ek luister na ‘n enjin en weet wat is die fout!” spog Susan met ‘n breë glimlag. Na Chrisjan se uitdienstreding by die Spoorweë, het hy, as ‘n uitstekende besigheidsman, sy eie besighede in Gansbaai bedryf: die koop en verkoop van vis by die vissermanne met ‘n ou bakkie en sleepwa wat hy gekoop het; die harder-besigheid wat hy bedryf het; die Shell Motorhawe oorkant die skoolgronde wat hy gekoop het en later Willie Swart verkoop het.
Een van Chrisjan se uitstaande eienskappe was dat hy nóóit ‘n vloekwoord of vuil taal gebruik het nie. Hy was in sy tagtigerjare toe hy siek geword het en is in HaS (Herberg aan See Tehuis vir Bejaardes) opgeneem, waar hy later oorlede is.
Pelgrimsrus en die ‘Ja-woord’
Susan se oupa, Piet Otto, het op die plaas Modderfontein naby Mafeking geboer. In 1880 (sien foto) is hy na die Bynes Diamant Delwerye in Pelgrimsrus, Mpumalanga Provinsie. Daar het hy, toe 60 jaar oud, Susan se pa Chrisjan (in sy 30’s) ontmoet. Hy het besluit Chrisjan is die ideale ‘trou-man’ vir sy oudste dogter. Hy het Chrisjan plaas toe genooi vir die ontmoeting met sy 3 dogters. “My pa moes tot sy hare en baard afskeer. Haar oupa het hom misgis met Chrisjan: Hy kies toe die jonger suster om sy vrou te word en nie die oudste een nie! Hierdie klink byna soos ‘n Bybel-verhaal.