GANSVEER SE JAAREINDE-UITDAGING!
THE INVENTION CONVENTION
Ontwerp/skep ’n Briljante oplossing vir ’n probleem wat niemand het nie!
Datum: 18 November | Groot Wit Huis
Liewe Gansveer-skrywers, digters en woordkunstenaars…
Dis tyd om ‘n dinkskrum te begin, die verbeelding los te laat en in briljante uitvinders te verander!
Vir ons jaareindebyeenkoms (die laasste vir díé jaar) wil ek hê elkeen moet iets uitdink. Iets buitengewoons. Iets vernuftigs. Iets totaal belagliks. Of dalk iets wat die wêreld dringend nodig het, maar nog nie aan gedink het nie!
Dit kan ’n werklike alledaagse probleem oplos, ’n irriterende klein ongemaklikheid oplos, ’n persoonlike frustrasie of selfs ’n probleem waarvan niemand tot dusver bewus was nie, oplos!
Hoe vreemder, snaakser, weirder, buitensporiger of vernuftiger, hoe beter!
1. Dink dit uit!
Ontwerp jou eie oorspronklike produk, masjien, apparaat, toestel of ander wonderwerk.
Hier is ’n paar voorbeelde om julle grysstof aan die gang te kry:
• ’n Horlosie wat jou ’n klein skokkie gee wanneer jy sosiaal verleentheid veroorsaak.
• ’n Toestel wat lastige, langdradige kuiergaste se motoralarm aanhoudend laat afgaan sodat hulle uiteindelik tou opgooi en huis toe gaan.
• ’n Afstandbeheer waarmee jy jou skoenveters kan vasmaak vir diegene wat nie meer kan buk nie.
• ’n Rugsak wat ALLES bevat! ’n Sambreel wat outomaties met ’n knoppie oopmaak wanneer dit reën, ’n waaier wanneer jy warm kry, ’n kam om jou kapsel vinnig reg te ruk, en naald en gare om daardie verleentheid-skeurtjie onmiddellik te herstel.
• ’n Toestel wat jou huis outomaties stormgereed maak en toe-wrap voordat die storm toeslaan.
• ’n Bril wat outomaties mense se name en waar jy hulle ontmoet het, vertoon voor jou oë. Geen meer verleë Hallo… jy!-oomblikke nie.
• ’n Knoppie wat die wêreld vir tien minute laat stilstaan wanneer jy net ’n bietjie vrede nodig het.
Dis maar net voorbeelde. Ek weet julle kan met iets baie meer verregaande vorendag kom!
1. Wys ons jou uitvinding!
Jy hoef dit NIE self te bou nie!
JY KAN:
• ’n Werkende model of prototipe bou. OF
• Dit teken of verf. OF
• ’n Collage maak. OF
• AI vra om ’n prent of tegniese bloudruk te ontwerp. OF
• ’n Illustrasie van jou uitvinding uitprint.
Net soos jy wil en kan.
Gebruik wat ook al by jou kreatiwiteit pas. Geen duur materiaal of ingewikkelde konstruksiewerk nodig nie. Nie te groot nie!
Gee dit ’n naam en skryf ’n gedig!
Elke briljante uitvinding verdien ’n briljante advertensie!
Jou gedig moet jou uitvinding bekendstel en ons probeer oortuig waarom ons eenvoudig nie daarsonder kan klaarkom nie.
Vertel ons:
• Wat is die naam van jou uitvinding?
• Watter probleem los dit op?
• Hoe werk dit?
• Waarom het ons dit so broodnodig?
• Waarom moet ons dit koop?
Jy kan snaaks, dramaties, sarkasties, verskonend?, oortuigend of totaal oordrewe wees.
Rym is opsioneel. Verbeelding is verpligtend!
Maksimum lengte: 1 bladsy.
Verkoop dit aan ons!
Bring op 18 November jou
uitvinding,
prent,
tekening
of bloudruk
saam en lees jou gedig as jou amptelike verkoopsaanbieding.
Jy kry ongeveer 3 minute om ons te oortuig dat jou uitvinding die volgende groot deurbraak gaan wees!
Wees voorbereid op vrae van ’n baie nuuskierige en moontlik skeptiese gehoor.
En die pryse gaan aan…
(Ek gaan sponsors soek vir pryse)
• Die briljantste uitvinding.
• Die belaglikste uitvinding.
• Die kreatiefste ontwerp.
• Die beste advertensiegedig.
• Die oortuigendste verkoopsaanbieding.
• Die uitvinding waarvan ons nie geweet het ons dit nodig het nie!
En natuurlik…
DIE GANSVEER-UITVINDER VAN DIE JAAR!
’n Paar ground rules:
• Jou uitvinding en konsep moet jou eie oorspronklike idee wees.
• AI mag jou help met illustrasies en bloudrukke, maar die uitvinding self moet uit jou eie verbeelding kom.
• Jy hoef niks te bou nie.
• Jy moet wel iets visueel saambring en ’n gedig skryf.
• Geniet dit!
Potlood of pen, delf diep, en ontwerp jou idee!
Wie weet? Dalk sit jy op ‘n miljoenrand-idee en raak dalk famous!!!
Sien julle op 18 November by die Groot Wit Huis.









