Lomond skitter in goud op Decanter World Wine Awards

Lomond skitter in goud op Decanter World Wine Awards

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Die internasionale kollig het weer eens op die suidelike punt van Afrika geval toe die Lomond-wynlandgoed in goud getooi is op die gesaghebbende Decanter World Wine Awards in Londen. Lomond, een van net ’n handvol wynprodusente in die Kaap Agulhas-wynstreek, se lang lys medaljes het gegroei met goue medaljes vir die Lomond Cat’s Tail Syrah 2011 en die Lomond Conebush Syrah 2011.

“Ons is baie trots op die erkenning wat ons wyne op hierdie vooraanstaande wynskou ontvang het,” sê Lomond se wynmaker, Kobus Gerber. “Lomond is bekend vir sy uitstekende shiraz van hoogstaande gehalte. Om goue medaljes te ontvang vir albei syrah-wyne uit ons enkelwingerdreeks, en uit dieselfde oesjaar, is ’n refleksie van die puik terroir, asook van die volgehoue hoë standaarde in die wingerd en die kelder.”

Lomond se Syrah-wyne het ook reeds goue medaljes en trofeë ingepalm op ander plaaslike en internasionale skoue, insluitende Syrah du Monde, Veritas en die Old Mutual Trophy-wynskou.

Vanjaar se Decanter World Wine Awards, wat in die VK gebaseer is, het meer as 15 000 inskrywings van regoor die wêreld gelok, maar net ’n klein persentasie is in goud getooi. In ’n omvattende beoordelingsproses word alle inskrywings eers voorlopig beoordeel voordat hulle deurdring na die amptelike proe. Die wyne word dan deur veelvuldige panele, bestaande uit wynmakers, kleinhandelaars en wynskrywers, beoordeel en net die heel beste wyne ter wêreld word beloon met goue medaljes en trofeë.

Lomond se Cat’s Tail Syrah 2011 en Conebush Syrah 2011 is uitstekende voorbeelde van ’n uitgebreide wynportefeulje van hierdie bekende en bekroonde landgoed en puik voorbeelde van die fyn kuns van wynmaak in Lomond se kelder, asook van die Kaap Agulhas-streek se uiteenlopende grondsoorte en koel, maritieme klimaat. Die landgoed het 18 verskillende grondsoorte, uiteenlopende topografie wat wissel van 30 tot 250 meter bo seevlak, suidliggende hellings en die invloed van die seebriese.

Die vertoning van die twee Syrah-wyne is die ideale geleentheid vir wynliefhebbers om twee wyne van hoogstaande gehalte te proe en met mekaar te vergelyk, aldus Gerber. “Hierdie twee medaljewenners is uit dieselfde oesjaar, maar heeltemal anders. Die Conebush is meer in die styl van die noordelike Rhône-streek, terwyl die Cat’s Tail ’n kombinasie is van swart peper-, donker vrugte- en sjokolade-geure. Hierdie verskil lig die uiteenlopendheid van ons grond uit.”

Die Lomond Conebush Syrah 2011 bied ’n boeket van soet speserygeure – neutmuskaat, kaneel en sweempies vanielje – met geure van wit peper en kersievrugte wat na die mond deurgedra word. Dis ’n volronde wyn met ryp, sappige tanniene.

Daar is wel tekens van speserye in die Cat’s Tail Syrah 2011, hoewel aromas van bessies en pruime oorwegend is in hierdie ryk, sagte en elegante wyn.

Die Decanter-prestasie getuig van kundige wynmaak en wingerdboupraktyke, asook van respek vir die grond. Lomond is ’n lid van Walkerbaai se fynbosbewaringsgebied en die Biodiversiteit- en Wyn-Inisiatief (BWI), wat produsente beloon vir volhoubare wynboupraktyke. Dit pas ook die beginsels van die IPW (die geïntegreerde produksie van wyn) toe. Die IPW is ’n vrywillige omgewingskema vir pes- en siektebeheer in die wingerd. 

Wat die wyne verder aan hul oorsprong bind, is die feit dat elkeen na fynbos in die streek vernoem word. Die Cat’s Tail is ’n enkelwingerdwyn wat sy naam kry van die plantspesie Bulbinella nutans, terwyl die Conebush vernoem is na die plantspesie Leucadendron.

Die wyne is landwyd beskikbaar by vooraanstaande drankhandelaars teen sowat R240 per bottel

Lomond is deel van Cape Legends, ’n omvattende reeks bekroonde wyne van hoogtsaande gehalte van verskeie boetiekkelders in en om die Kaapse wynlande. Vir meer inligting oor Lomond en sy wyne, besoek www.lomond.co.za. Besonderhede oor Cape Legends se reeks puik wyne kan verkry word by www.capelegends.co.za.

Foto : Kobus Gerber, Lomond Wynmaker

Lomond skitter in goud op Decanter World Wine Awards

Gansbaai Courant

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Treat Mom to a Special Mother’s Day Lunch

Treat Mom to a Special Mother’s Day Lunch

This Mother’s Day, we’re rolling out the red carpet (and definitely not the dirty dishes).

Great White House
Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary!

Gansbaai Tourism
SASSI Sustainable Seafood in Gansbaai

SASSI Sustainable Seafood in Gansbaai

At The Great White House, we are conscious of the seafood we serve...

Great White House
Overstrand Tourism Diary: 11 - 15 March 2026

Overstrand Tourism Diary: 11 - 15 March 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary, filled with music, markets, walks, workshops, and live entertainment!

Gansbaai Tourism
Celebrate Earth Hour at the Great White House Restaurant

Celebrate Earth Hour at the Great White House Restaurant

On 28 March 2026 from 20h30 to 21h30, the Great White House Restaurant will join millions around the world...

Great White House
Valentine’s Day at The Boathouse

Valentine’s Day at The Boathouse

Love is in the air… and so are the surprises!

See All Articles