Ring Kore Fees 2023 - VGK Ring van Caledon
Om na koorsang te luister, is op sigself ‘n belewenis, maar om na 10 kerkkore se koorsang te luister, is veel meer as net ‘n belewenis - soveel te meer wanneer hulle as ‘n masa-koor optree! Die VGK Ring Kore Fees is op 8 Oktober 2023 in Gansbaai Academia se saal aangebied.
Ds Dirk van Dyk, ‘n Gansbaai-leraar, was die Program-direkteur vir die besonderse geleentheid en het die verwelkoming hanteer. Ds Haupt, voorsitter van die VGK Ring van Caledon, het die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen. Daarna is sermoniële kerse vir Lief en Leed aangesteek - onderskeidelik deur die gemeentes van Caledon, Bredasdorp en Tesselaarsdal.
Die eerste item op die program was al 10 kore en gaskunstenaars wat, as ‘n massakoor, opgetree het met die luisterryke sing van die VGK Lied. Die gaskunstenaars-koor vir die geleentheid was die welbekende NGK Kerkkoor van Gansbaai.
Daarna het die 10 VGK-kore aan die beurt gekom - met 2 liedere wat deur elke koor gesing is. Hulle is (alfabeties): Bredasdorp olv ds Arne Leuvennink; Caledon olv Deon Booysen; Gansbaai olv Peter le Roux; Grabouw olv Neville Coert; Hawston olv Dora Lucas; Kleinmond olv Janine Floris; Riviersonderend olv Erica Armstrong; Streekkoor VGK Ring van Caledon olv Deon Booysen; Tesselaarsdal olv A Small; Villiersdorp olv Deon Booysen.
Hierdie puik koorsang is afgewissel met spontane samesang, asook optredes deur die volgende gaskunstenaars: Inspirational Male Choir (Gansbaai), Silver Bells Male Choir - orkes (Hawston) en Gansbaai Academia se bekende Marimba Orkes.
Die uitstekende en suksesvolle Ring Kore Fees 2023 is met die sing van die Volkslied, Nkosi Sikelel’iAfrika afgesluit, waarna verversings bedien is - baie geluk aan die VGK Ring van Caledon en helpers vir die aanbied van ‘n suksesvolle en luisterryke Kore Fees.