Trauma fasiliteit herloods

Die trauma fasiliteit by die SAPD is Dinsdag herloods as die Slagoffer Vriendelike Fasiliteit ("Victim Friendly Facility").

Al die trauma fasiliteite in die Overberg is uniform gehermeubileer en word op dieselfde wyse geadministreer.

Die Spar-groep is landswyd as borg saam met "Business Against Crime" betrokke. Tydens die geleentheid het Morkel van Niekerk van Gansbaai Superspar gesê dat die Spar-groep met die opgradering en inrig van traumakamers by die polisiestasies in Suid-Afrika hul toewyding bevestig om Suid-Afrika 'n beter plek vir almal te maak. "Ons as Spar voel veral sterk oor geweld teen kinders en vroue wat die meeste geraak word deur geweld in en om ons wonings. Hulle is ook die kwesbaarste en kan hulself nie altyd verdedig nie. Daarom moet ons almal saamstaan om vrouens en kinders te beskerm," het Van Niekerk gesê.

Bo: Vlnr: Lucille Mangiagalli, Kapt Danie Rautenbach (Gansbaai Stasiebevelvoerder), Shawn Koen ("Business Against Crime"), Morkel van Niekerk (Superspar), Kol P Cetyana (Hermanus Streek Bevelvoerder) en Lt Kol Paulse (Provinsiale SAPS Slagoffer Bemagtigings Program Koördineerder).

Bo: Trauma slagoffers, Elisha Wessels (links) en Eleanore Baartman steek kersies aan vir slagoffers van geweld.

Lucille Mangiagalli, voorsitter van die Overberg Gemeenskaps Polisiërings Forum, is reeds die afgelope 10 jaar aan die spits van die projek.

"'n Wendyhuis is in 2003 hier afgelaai met die opdrag dat dit binne 4 weke in gebruik moes wees. Ek en Adj Off Wynand le Roux was hande in die hare, maar Chris Basson het na vore getree en binne 'n paar dae die wendyhuis uitgepaneel, geverf en verder ingerig. Toe ons op aanvraag die faktuur vir sy werk ontvang, was daar geen bedrag nie, net die woorde: "Met liefde," het Lucille gesê.

Die Hermanus Streekbevelvoerder, Kol P Cetyana, het daarop gewys dat die projek nie moontlik sou wees sonder Spar se reuse bydrae nie. "Ons het vennote nodig en kan glad nie die diens lewer sonder toegewyde vrywilligers nie. Hulle kundigheid, wat sielkundiges insluit, is van kardinale belang en hul waarde moet nooit onderskat word nie. Dit is ook baie belangrik dat gemeenskappe betrokke raak," het Cetyana gesê.

Tydens die geleentheid het twee vroue wat in Gansbaai trauma ondersteuning gekry het hul ervaring met die vergadering gedeel. Elisha Wessels, wat 'n aantal jare gelede deur inbrekers verkrag is terwyl sy haar dogtertjie teen haar bors vasgedruk het, het haar dankbaarheid uitgespreek oor die hulp wat sy daarna ontvang het. "Die vrywilligers het dadelik gekom om my te ondersteun en ek weet God het hulle oor my pad gestuur. Ek is deur 'n lang pad van trauma en het myself verwyt en sekere dinge nie reg hanteer nie. Ek kon myself nie kry om respek vir myself te kry nie en het selfs vir God verwyt. Daar was 'n groot leemte in my. Tydens een nag van wroeging het ek egter 'n boodskap van my sussie gekry: 'Die Here het daardie aand elke traan saam met jou gehuil.' Dit het vir my genesing gebring en die volgende Sondag is ek saam met 'n vriend kerk toe," het Elisha gesê.

Eleanore Baartman, wat tydens 'n gewapende rooftog by die Engen Garage by die petrolpompe aan diens was, het vertel hoe sy ervaar het dat haar menswees en beheer oor haar eie lewe van haar ontneem is. Die ondersteuning wat sy egter daarna ontvang het, het haar gehelp om dit te verwerk.

Die verrigtinge is geopen deur Ds Dennis Naidoo wat namens die Gansbaai Fraternal die kerke se steun aan die projek en die bewusmaking van die probleem van geweld teenoor vroue en kinders in hul gemeentes beloof het.

Francois de Jongh