2013 Terugblik

2013 Terugblik

Gansbaai Courant

Januarie

Die verwoestende Kleinrivierberg-brand wat op 24 Desember ontstaan het en 20000 ha veld en fynbos langs die Kleinrivier tussen Hermanus en Stanford verwoes het, het ook op 29 Desember vir Gansbaai sonder krag gelaat. Dit het op 1 Januarie weer opgevlam maar is met behulp van helikopters geblus.

Michelle le Roux, mnr Wilson en Michelle Hayes

"Ek dink Gansbaai Academia het 'n 'statement' gemaak," het die skoolhoof Tommy Wilson gesê oor die skool se eerste matriekklas se slaagsyfer van 92.15%. Gerhard Kotze van De Kelders het nie net gesien hoe 'n rob 'n jong koperhaai vang nie maar dit selfs gefotografeer. Die moordverhoor van Johan (Typie) Julies (31) en sy mede-beskuldigde houvrou, Mariaan Nobles (30), wat aangekla staan vir die bylmoord van Jan (Nugget) Otto, het 'n dramatiese wending geneem. Julies se selmaat het getuig dat Julies hom in detail van die moord vertel het en erken het dat hy dit gepleeg het.

Februarie

Desiree Doran wat tydens die Lighuis-tot-Lighuis Berg-fietswedren by Sopieshoogte aangeval is, ry hier op haar bergfiets, met haar twee Gansbaai weldoeners, Johan Hanekom (bo) en Tot Fourie (onder) op die inlasfoto's.

Die bou van die finale fase  van die teerpad tussen Gansbaai en Bredasdorp via Baardskeerders-bos en Elim is goedgekeur en die padwerke is beplan vanaf Maart 2013. 'n Stormwater-stelsel vir Masakhane en Blompark word aangelê weens die gereelde oorstromings van die woonbuurtes. Pyplyne en 3 retensiedamme sal teen 'n koste van sowat R5.5 miljoen aangelê word. Intussen is die werk afgehandel en het goed gewerk tydens die groot reëns van November. Die informele nedersetting van Eluxolweni naby Pearly Beach is opgradeer en 211 gedienste erwe sal na voltooiing van die projek beskikbaar wees. 'n Deelnemer aan die Lighuis tot Lighuis Bergfietswedren, Desiree Doran (47), is by Sopieshoogte deur 'n minderjarige seun (15) oorval en die bosse ingesleep. 'n Motoris, Johan Hanekom, het die fiets langs die pad sien lê en haar te hulp gesnel. Die seun het weggehardloop maar is later aangekeer.

Maart

Die GAP behuisingsprojek, aan die berg se kant van Buite-kantstraat, het afgeskop en die implementeerders Motlekar en sy kontrakteurs het met grondverskuiwingswerk begin. Die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings is betrokke en dit kom daarop neer dat behuisingsubsidiegeld gebruik word as oorbruggingsmeganisme om die projek vir alle partye bekostigbaar te maak. Die projek plaas geen finansiële verpligtinge op die munisipaliteit nie. Huise sal na gelang van hul grootte tussen R350 000 en R480 000 kos. Potensiële begunstigdes moet voldoen aan die kriteria vir deelname en oor 'n gesamentlike huishoudelike inkomste van R3051 tot R15000 per maand beskik.

Skaars walviskots (ambergris) wat vir die maak van parfuum gebruik  word is by Grottostrand deur Fred en Val Kuys gevind en kan moontlik meer as R1 miljoen werd wees.

Fred en Val Kuys van Kaapstad by hierdie uiters skaars braaksel (Ambergris) wat vir die maak van parfuum gebruik word. Dié vonds kan moontlik meer as R1 miljoen werd wees.  

April

Die verhoor van die beweerde "Barends" perlemoensindikaat het 'n dramatiese wending geneem met die arrestasie van die prokureur, Anthony Broadway. Sy prokureursfirma was betrokke by die verteenwoordiging van die groepering gedurende die periode wat hulle bedrywig was. Broadway is as aangeklaagde 30 by die rampokkery, perlemoensindikaat gevoeg. Die aanklagte teen hom is onder andere geldwassery, bedrog, versuim van registrasie by FIC ("Financial Intelligence Centre"), hulp aan ander om voordeel te trek uit opbrengste van kriminele aktiwiteite en die versuim om suspisieuse of ongewone transaksies aan FIC te rapporteer.

Die eerste sooi is gespit vir die bou van die laaste fase van die teerpad om Gansbaai, Elim en Bredasdorp met mekaar te verbind.

Die pad tussen Elim en Bredasdorp is reeds voltooi en nou volg die gedeelte tussen Gansbaai oor Baardskeerdersbos tot by Elim.

Mei

Die sluiting van die distriksmunisipaliteit  van die Overberg (ODM) se streekstortingsterrein by Karwyderskraal het tot gevolg dat al die Overstrandse huishoudelike vullis nou by Gansbaai gestort word. Karwyderskraal is gesluit omdat die ODM, wat die terrein se eienaars is, in gebreke gebly het om finansieel voorsiening te maak vir noodsaaklike uitbreidings aan die houvermoë van die fasiliteit. Spaces for Sport het die Internasionale Olimpiese komitee (IOC) se toekenning tydens 'n internasionale konferensie in Lima, Peru ontvang.

Die 2012-oesjaar van die Lomond Sauvignon Blanc het 'n goue medalje ontvang by die Concours Mondial du Sauvignon wat jaarliks in Frankryk plaasvind. Die wynmaker, Kobus Gerber, beskryf die wyn as "fris, mediumvol met 'n delikate mineraalkarakter en propvol smake van groen en tropiese vrugte."

'n Wykskomiteelid van Masakhane is geskors nadat hy 'n onwettige betoging teen die munisipaliteit gelei het.

Junie

Craig O'Connell, 'n PhD-student van die Universiteit van Massachusetts Dartmouth in die VSA, en die hooffinansier, Mike Rutzen, van Shark Diving Unlimited in Kleinbaai se navorsing oor 'n "veilige haaihindernis" lyk belowend. Dit is bekend as die "Sharksafe Barrier System" en bestaan uit plastiekpype wat soos bamboes lyk. Dit word met kettings aan betonblokke aan die seebodem geanker. 'n Magnetiese veld is ook in die stuktuur ingebou en die boonste deel van die pype steek net bo die water uit. Grootwithaaie is sensitief vir bamboes asook magnetiese velde.

Mike Rutzen van Shark Diving Unlimited (links) saam met Craig O’Connell, hoofwetenskaplike vir die "Shark-save" haaihindernis-projek waarby altwee van hulle ΄n groot rol speel. Regs: Die nuwe "Shark-save" haaihindernis in proses waarvan Mike Rutzen van Shark Diving Unlimited een van die hoofrolspelers is. (Foto: Jean Pierre Botha)

Die beweerde perlemoensindikaatleier, Frank Barends se borgaansoek is in die Kaapse Hooggeregshof afgekeur. Hy word onder andere aangekla vir perlemoensindikaatbedrywig-hede en geldwassery. 'n Reeksmoordenaar en verkragter, Sandisile Makhaka (31) is 3 lewenslange gevangenisstraf op-gelê vir die moord en verkragting van 2 vroue. Een was ver verwagtend en die baba is ook dood. Die vrou en baba is in Masakhane dood en nog 'n vrou in die Oos-Kaap. Makhala is 3 jaar na die plaaslike moord deur sy DNS vasgetrek.

Julie

Die staatsperlemoenplaas wat in Mei 2011 deur Minister Tina Joemat-Petterson aan Gansbaai toegeken is, is gekaap na Waenhuiskrans. Die projek behels sowat R25 miljoen. Die honde-wreedaard, Martin Block (22) is vir 12 maande tronk toe gestuur. Hy het 'n pragtige Bullmastiff se oë wreedaardig met 'n mes uitgesteek nadat hy die hond gesteel het.

Die R43 provinsiale hoofpad tussen Hermanus en Stanford gaan oorgebou word.

Augustus

'n Nuwe skoolgebou van R32 miljoen wat meer as 'n 1000 leerlinge kan akkommodeer word vir Masakhane Primêr gebou. Die Winter Fynbosskou en Musiekfees is by Gansbaai Academia aangebied. Die fynbosuitstalling was asemrowend en daar was ook verskeie stalletjies, vermaak en 'n teetuin ten bate van die skool.

Die GAP-behuisingsprojek aan die berg se kant van Buitekantstraat is goedgekeur en die eenhede sal wissel tussen R350000 en R480000.

Stormsee het die stokvistreiler, St Croix van Dyer Eiland Visserye, in die Nuwe Hawe losgeruk en aan die buitekant van die kaai gestrand.

September

Alana Louw van Laerskool Gansbaai (regs) is as die distrikswenner vir "Uitnemendheid op die terrein van primêre onderwys", aangewys.

Geweldige reën het in die eerste week van die maand oorstromings en verspoelings tot gevolg gehad. Veral Uilenkraalsmond Vakansieoord en Franskraal het deurgeloop. Gansbaai Sakekamer het grense verskuif deur een van die eerste sakekamers in die land te word wat 'n samewerkingsooreenkoms met sy plaaslike bestuur, die Overstrand Munisipaliteit, te sluit.

Madelize Lourens (29) (regs) is in Maleisië tot 15 jaar gevangenisstraf, waarvan 5 jaar, asook 2 jaar en 1 maand wat reeds uitgedien is, afgetrek is. Madelize sal na 2 jaar vir vroeë ontslag in aanmerking kom. Sy is aangekla vir die besit van dwelms nadat haar koffer op Kuala Lumpur se lughawe deursoek is. Sy het betoog dat dit geplant was en dat sy dus onbewus daarvan was.

Oktober

Die verhoor van die twee moordverdagtes, Johan Julies (31) en sy houvrou, Mariaan Nobles (30) het hervat. Hulle staan tereg op die bylmoord van die skipper, Jan (Nugget) Otto wat in Februarie 2011 in sy bed met 2 bylkappe teen die kop vermoor is.

Chris en Petra van Rensburg van OK Foods Gansbaai het die Nasionale Franchisee van die Jaar toekenning tydens 'n konferensie in Beiing, China ontvang.

Bobby Skinstad, voormalige Springbokkaptein is as Toerisme ambassadeur vir die Overstrand aangestel.

Vlnr is Bobby Skinstad, voormalige Springbokkaptein, saam met Overstrand se Toerismebestuurders Stephanie Richards (Stanford), Teressa Jones (Hermanus), Celeste Scheepers (Hangklip-Kleinmond) en Glenda Kitley (Gansbaai), met Suné Greeff (Overstrand Toerismebestuurder) en Nils Flaaten (CEO Wesgro).

Die beoogde gedenkboek wat die ryke geskiedenis van Gansbaai moet vasvang was byna gekelder maar is nou weer in die vaarwater. Vir enige navrae, voorverkope óf bydraes kan die komitee se sameroeper Rdh Pieter Scholtz by 082 928 8869 óf Kat Myburgh by 028 384 8300 geskakel word.

November

Die Wes-Kaapse Hooggeregshofregter het 'n beperkingsbevel teen die sogenaamde Wei-Barends perlemoensindikaat toegestaan. Daarvolgens is al 28 sindikaatlede se bates gevries en beveilig in afwagting op 'n konfiskeringsbevel as die beskuldigdes later skuldig bevind word en gevonnis word. In gevolge hiervan kan die sindikaatlede al hul vaste bates wat oor 15 jaar bekom is, verloor.

'n Fynboskenner en –skrywer van 'n boek wat handel oor die gebruik van medisinale fynbosplante in ons omgewing, Mathia Schwegler (regs), het in die berg vermis geraak. Sy is na 3 nagte ongedeerd maar verward 'n 'n kloof op hul plaas, Heidehof, opgespoor.

Gansbaai het sy grootste vloed in 70 jaar beleef nadat 140mm reën in 15 uur geval het. Dit het tot gevolg gehad dat daar 3 watervalle vir die eerste keer sedert die 1940's teen die berg was. 'n Groot aantal huise is in Uilenkraalsmond en Franskraal asook in Blompark en Gansbaai middedorp oorstroom. Die pad is ook by Stanford se Kleinrivierbrug weens verspoelings vir verkeer gesluit.

'n Huisrower is na 'n mensejag van 10 km deur digte bosse in die nag by Die Plaat aangekeer. Hy het om 02:00 by Ds Peet Neethling se huis ingebreek, hom oor die kop geslaan en sy skootrekenaar waarop hy sit en werk het, gesteel. Thandile Maqume is skuldig bevind en tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Desember

Oud President Nelson Mandela sterf en die gemeenskap het die geleentheid gekry om boeke van meegvoel by Masakhane, Blompark en Gansbaaidorp te teken. Daar is ook 'n gedenkdiens deur die Gansbaai Fraternal by die AGS kerk gehou.

'n Branderplankryer, Thomas Brown (19) is deur 'n Grootwithaai aan die bobeen gebyt terwyl hy by Die Plaat net noord van De Kelders geduik het. Hy is deur vriende na die Mediclinic in Hermanus gehaas waar hy noodbehandeling ontvang het en 2 dae later ontslaan is.

Thomas Brown sterk in die Mediclinic by Hermanus aan nadat hy deur 'n Grootwithaai by De Kelders Plaat aangeval is

Francois de Jongh

2013 Terugblik

Francois de Jongh

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Stay Close to Gansbaai Harbour: Relax at N०1 Harbour Way!

Stay Close to Gansbaai Harbour: Relax at N०1 Harbour Way!

Enjoy a relaxing stay at N०1 Harbour Way, just a short walk from the Gansbaai Harbour. 

N०1 Harbour Way
Explore SMEG's Retro Kitchen Collection!

Explore SMEG's Retro Kitchen Collection!

Upgrade your kitchen with S Herholdt and SMEG's Retro Kitchen style!  

S Herholdt
Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 11)

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 11)

In Deel 11 gaan ons voort met die twee egpare, Fanie en Judy Bothma van Franskraal en Dolf en Elna Nel van Saldanha.

Gans-Berg Nuus / News
Custom Irrigation Solutions for Your Garden's Water Needs!

Custom Irrigation Solutions for Your Garden's Water Needs!

A well-watered garden is a happy garden!

Eco-Flo Irrigation
Transform Your Kitchen with S Heroldt and SMEG: Premium Luxury Kitchen

Transform Your Kitchen with S Heroldt and SMEG: Premium Luxury Kitchen

Revamp your kitchen with S Heroldt and SMEG!

S Herholdt
Draft AGM Minutes - 22 March 2024

Draft AGM Minutes - 22 March 2024

We're pleased to share the draft minutes of our Annual General Meeting held on March 22, 2024. 

See All Articles