Spuitkannetjies

Wat het ons gedoen voor die koms van spuitkannetjies?  Dis haas ondenkbaar dat daar ‘n tyd was dat ons sonder hierdie onder-druk-kitssproeie kon klaarkom.  Daar was vir my as kind so ‘n romantiek aan die piepklein parfuumbotteltjies wat my ma in die boonste, klein kassie van die swaar ou laaikas in haar kamer gehou het.  Evening in Paris en 4711 Eau de Cologne.  As peuters kon ons kyk en die lieflike geure in ons neusgate ervaar wanneer sy die botteltjies teen haar wysvinger omgedop en dit agter haar ore aangetik het. Pure vrou. Pure Mamma.

Terwyl ander kinders se lengtes met hulle ma’s se naaldwerk maatbande gemeet was, het ons ons eie lengtes gemonitor aan die reikrekte om by daardie botteltjie-kassie by te kom. Dit sou jare neem, maar ‘n mens se verstand groei ook mos. Ek het Pappa se komyntjie-bankie, waarop Mamma gestaan het om die inmaakpotte bo van die kombuiskas af te haal, nader gesleep en Sus het die klimwerk gedoen. Die gevolge was rampspoedig.  Die 4711 het op die grond beland toe sy dit vir my aangegee het en die blou botteltjie het sy staan en uitmors bo-op die laaikas. Ons altwee se boude het gebrand van lekkerruik.

Vroumens bly vroumens, maak nie saak hoe oud jy is nie en om dit te koester, het Mamma vir ons ‘n klein botteltjie Roses en Poppies by oom Koos Dwerg se winkel gaan koop wat ons vir onsself en die poppe kon aansit. Natuurlik het dit nie lank gehou nie. En dit het nie eens lekker geruik nie.

Dit was eers in ons tienerjare dat ons met spuitbotteltjies kennis gemaak het. Yardley het na English Rose en Lavender – wat na oumens geruik het - drie wonderbaarlike, jong geure in spuitbottels op die mark gebring: Bond Street, Flair en Sea Jade. Ek, Sus en Marietjie val vir Suidhoek binne. Sus koop Flair, ek dink meer agter die ligblou proppie aan, want alles moes vir haar blou wees; Marietjie hou van die misterieuse, soel Bond Street en ek verhuis vir die volgende drie jaar na ‘n Suidsee-eiland met my Sea Jade, ‘n geur wat my nog steeds bybly.

Die botteltjies met pypies en spuitpompies was aardig genoeg, maar die koms van die blik Coopers vlieëgif, was ‘n wonderbaarlike uitvinding. Ons kon al die grillerige stringe Vastrap met hulle dooie vlieë van die balke afhaal en vir ewig weggooi. Nadat die kombuis  karbolsuur-skoon was, is die deur vinnig toegetrek na twee spuite uit die blou blik. Vir die volgende etmaal het vlieg se kind dit nie daar gewaag nie. Ook muskiete het maar liefs aan die buitekant van vensterruite gebly en net ingeloer om te sien wat binne aangaan.

Vir vyftig jaar sedertdien, het die spuitkannetjies in die kaste in ons huise vermeerder soos wilde konyne. ‘n Groot deel van die gat in die osoonlaag bokant ons, is te wyte aan hierdie fenomeen wat die wêreld stormenderhand ingeneem het.  Alhoewel die meeste produkte deesdae vry is van die bestanddeel wat die osoonlaag opgevreet het, is dit so gelaai met lewensvreemde chemikalieë dat die gevaargoed maar net verskuif is. Eendag..gaan ek nog die tyd reserveer  om elkeen van die een en twintig bestanddele van my onderarmsproei  op te soek. Onder andere bevat dit cholesterol, waarteen so baie mense medikasie gebruik. Huh?

Spuitkannetjies is hier om te bly, of dit met seën of verdoemenis is, is nie meer ter sprake nie. Deesdae moet mens eers ‘n vlieg met die kaal hand vang en dit dan met die spuit bykom om enige nut uit ‘n kannetjie vlieëgif te kry, maar ook dit is irrelevant. Ons gaan net agter die gemak aan.

As mense is ons ook spuitkannetjies; merendeels ook maar onder druk. En die meeste van die tyd, as iemand ons knoppie druk, stuur ons ook ‘n klomp gif die lug in. Of dit enigsins help, maak selde saak. Oor die inhoud van die kannetjies wat ons koop het ons geen beheer nie; ons spuit maar net. Oor ons eie inhoud, kan ons egter self besluit; ons kan self die brousel aanmaak en self die druk bepaal.

Ons kan besluit om net sagte, mooi, komplimentêre, positiewe, respektabele, opbouende  sproei rondom ons te spuit. Soos Evening in Paris.

Carine Badenhorst