As die Here wil

Teks:  Jakobus 4:13-17

As die Here wil

Sê mense nog vandag as dit die Here se wil is, of as die Here my spaar, of selfs  solank lewe.  Hoor n mens dit nog?  Praat mense nog so?   Ons ken dalk mense wat vroeër so gepraat het, of dat jy self so praat. My eie pa sou nooit oor môre of oormôre praat sonder om die woorde as dit die Here se wil is te gebruik nie. Ons het so grootgeraak. Dit is by ons ingeprent .  As die Here wil . . . as die Here ons spaar . . . solank lewe . . . Kom ons dink vanoggend oor hierdie woorde . . . DV. . .

Dit kom natuurlik van die gedeelte wat ons saamgelees het.  In Jak 4:13-17 kritiseer hy die wat selfversekerd  praat asof môre en oormôre se planne sommer so sal uitwerk , asof vanselfsprekend. Vandag of môre sal ons na die en die stad toe gaan en ‘n jaar daar bly; ons sal sake doen doen en geld maak.   Dan skrywe  Jakobus: . . . hulle weet nie eens hoe hulle lewe môre sal wees nie. Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.  Daarom moet hulle nie so selfversekerd praat nie . . . hulle moet besef hoe nietig hulle is. . . hulle moet eerder sê:   As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.

Hierdie soort ingesteldheid is natuurlik nie iets wat net in Jakobus sou voorkom nie. Die res van die Bybel  bevestig ook die belangrikheid van hierdie lewensgevoel .In  Ps 90 v 3 lees ons: U laat die mens sterwe.  U sê net:  word weer stof.  Duisend jaar is vir u  soos gister as dit verby is soos een enkele wagbeurt in die nag.  U maak ‘n einde aan ‘n mens,  hy gaan die doodslaap in.   Hy is soos gras  wat in die môre afsgesny word:  in die môre is dit nog groen , maar dit word afgesny  en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.    En dan ook die woorde:  onder U toorn vlieg ons dae  en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte .

Hierdie lewensgevoel sou  ook  neerslag vind in die lewensuitkyk van baie Christene oor jare heen.  So byvoorbeeld  sou dit lei tot ‘n baie sterk bewussyn van God se sorg  en voorsiening.   In die ons belydeniskrifte uit die 16 de eeu  word hierdie sorg van die Here dan ook in die woorde van die  Heidelbergse Kategismus bely:  God regeer  hemel en aarde en alle skepsels asof met sy eie hand, sodat alles, ons nie per toeval nie, maar uit die Vaderhand toekom.  Die wete maak ons in teëspoed geduldig  en in voorspoed dankbaar.  Die woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis hieroor lui soos volg:  Die goeie God laat sy skepping nie vaar nie  en gee dit nie aan die toeval of die geluk oor nie.  Die wete bied ons ‘n onuitspreeklike troos.  Daarom sou dit ook so wees dat veral by gereformeerde Christene  nooit die noodlot of die toeval sou wees wat  ons lot bepaal nie.  Hulle sou dan ook leer om byvoorbeeld nooit te sê per geluk of  toevallig nie.   Die diepe lewensingesteldheid sou wees diepe afhanklikheid van die Here. Ons hele lewe is in Sy hand.  Daarom om dan eerder te sê: as die Here wil of dan solank lewe . . .

By die nadink daarvan het ek net weer  besef  ons self vandag kan mekaar nie genoeg aanmoedig om ook so te praat nie. Ons  lewens, ons toekoms is mos nie in ons eie hande nie.  Ons planne vir die toekoms is mos nie iets wat vanselfsprekend  sal gebeur nie. Ons is  diep afhanklik  van die Here.  Ons moet bewaar word van ‘n soort eiewaan, n hoogmoedigheid . . . asof dit van ons afhang.

 Dit laat my dink aan die saligspreking: Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.  Ons moet leer om weer so te praat, vir ingeval ons dit dalk nie meer doen nie.  Dit moet natuurlik nie net maar ‘n manier van praat wees sonder dat dit bedoel word nie . . . dit moet bedoel word .  Ek dink aan die persoon wat vir die familie laat weet het dat hulle, as die Here wil, so gou as moontlik, selfs  Woensdag sal kom, maar verseker Donderdag.    Dan is dit blote woorde,  want diep in jou hart bly hy dan oortuig daarvan dat  jou aandeel aan die planne eintlik deurslagggewend is, al gebeur  wat ookal.   Natuurlik kan jy dit ook so gebruik dat dit nou weer die betekenis daarvan heeltemal  uit verband ruk. Byvoorbeeld die bokser wat hulle gevra het waar hy eendag begrawe wil word. Toe antwoord hy:  as die Here my spaar in Bloemfontein. Iemand het  van die bokser gesê dat  hy seker ‘n gerefomeerde bokser was. Nee,  natuurlik moet ons dit bedoel  omdat ons weet hoe afhanklik ons is.    Dit druk hierdie afhanklikheid op ‘n wonderlike wyse uit. . .

Om so te praat is ook ‘n uitdrukking daarvan van ‘n diepe begeerte om te lewe soos die Here wil .   In die verband sou geleerdes  dan ook sê dat Jakobus  ook vir die lesers wou sê dat hulle nie moet leef soos hulle wil nie, maar dat hulle gedurig sal vra wat die wil van die Here  vir hulle lewe. Hoe hulle moet optree, hoe moet hulle ander behandel. Geleerdes sê dan ook dat Jakobus eintlik hier vir die ryk gelowiges preek wat die arm mense so sleg behandel. Daar het daardeur konflik ontstaan deurdat die selfversekerde  ryk mense die armes benadeel en verneder het.  In hulle selfsugtige aktiwiteite  het hulle nie na die behoeftes van die eenvoudige gemeentelede gevra nie en ook nie na die wil van die Here nie.  Sy wil het nie hulle prioriteite van hulle beplanning bepaal nie.  Daarom moet hulle nou bewustelik vra na die wil van die Here vir hulle lewe vra.  Dink net aan die woorde van Jak 5:1-4 En nou julle rykaards , kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom.  Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur.  Julle maak skatte bymekaar  en dit terwyl dit die laaste dae is.    Ja, julle hou die loon agter  van die werkers wat julle lande afgeoes het.  Dit skreeu ten hemel. Die woorde van Jak 4:17 is baie veelseggend:  ( dit wil sê om goed te doen, om die wil van die Here te doen). . .  en hy doen dit nie ( dus hy soek sy eie belang  en is selfversekerd en grootpraterig , en laat draai die planne om hulleself  en nie om die Here nie ), dan is dit sonde.

Daarom is om te sê as  dit die wil van die Here is, nie net om te dink  dat dinge dalk anders kan uitwerk as beplan nie. Asof die Here ook net daar is om ons planne as ‘n ware nie te laat uitwerk nie. Nee, die Here is ook die Here van die lewe sodat ons ook gedurig daarna sal strewe om in hierdie lewe die Here  te dien en doen wat reg is in sy oë.  Veral ook te besef dat daar vir die Here min dinge so belangrik is as om reg op te tree teenoor mense, en veral teenoor die weerloses.  In die verband is die woorde as die Here wil  dan ook ‘n soort herinnering. n Herinnering nie net om te besef dat ons afhanklik is van die Here nie, maar ook ‘n herinnering om te leef tot eer van die Here.

 As jy leer om gereeld so te sê altyd so te sê, as jou aandag daarop gevestig word wanneer jy dit nie doen nie, dan word jy bewus gehou daarvan, dan bly dit in jou denke aanwesig, en dan beĐŚnvloed dit sekerlik jou gedrag, jou voornemens.  Daarom is om so te praat ook om ook jou eie wil prys te gee. Dink aan die gebed:  laat u wil geskied. Dink aan Jesus  se gebed in Getsemane . .  .

Laat ons opnuut dink oor hoe ons praat oor die toekoms,  oor ons planne,  oor ons drome.  Laat ons leer om te sê . . . as dit die wil van die Here is . . .