Hoe primitiewer, hoe beter

‘n Ou boek in eenvoudige, dog suiwer Afrikaans geskryf het darem maar sy bekoring. Dis soos vergeelde kant en satyn met roesspikkeltjies uit ‘n solderkis. Daar’s ‘n soort van heiligheid daaraan, ‘n sagvat oopmaak sonder om die reeds brose te beskadig. So kry ek, alhoewel nie die oudste op die rak nie, ‘n eerste druk van Flip Joubert se Die Groot Seehengelboek. (Perskor 1974) Self het ek glad nie die geduld om met ‘n stok in die hand te sit en wag vir die dalk beter dae wanneer daar ‘n vars vis vir die tafel oor die vlak branders aangerol kom nie. En wanneer ek kyk na al die gerei wat die boek aanbeveel, besef ek weer eens die waarde van ‘n goeie viswinkel of sommer ‘n boksievis. Agter in die boek is ‘n kort hoofstuk oor visvang met ‘n vlieër, daardie soort wat die kinders mee speel. Dit het glo ten doel om die aas uit te neem na daar waar dit te ver is vir ‘n strandhengelaar om met ‘n stok te gooi. Hierdie deel maak nog sin, maar hoe verder ek lees, hoe minder kry ek die lood in die water.
By die tweede laaste hoofstuk slaan ek my tentpenne in. Hoe om te kampeer. Al die nuwerwetse tente en kombinasie karawaentjies ten spyt, verkies ek steeds die tent waarvan Flip Joubert melding maak. Ons groen tent is van die ou soort en staan seker seer-oog uit in ‘n kampplek, maar ons het binne-in hom al menigmaal gelê en luister hoe die Strandveldse Suidoos petietserige, nuwerwetse boggeltentjies lug in vat terwyl kampeerders in nagklere malmoedig en skreeuend agterna hardloop. Ander moet weer heelnag met die hamer en ‘n stormflits patrollie loop om tentpenne in te kap. Nee, nie ons ou tent nie. Al wat hy in antwoord op die Suidoos het, is so ‘n luierige flap-flap wat my net nog lekkerder laat slaap.  Voorts sê neef Flip, moet daar digby die slaaptent ‘n kookseil  gespan wees, daar moet ‘n vuurmaakplek wees en ‘n heining van goiingsak.
As ek my lekkerste kampervaring moet uitsonder, was dit die eerste keer toe ons en die bure van destyds sommer so heel impulsief besluit het om in die Spidergumbos langs Voëlvlei te gaan oornag. Die eintlike rede was om (onwettig) te gaan springers trek in die vlei.  Net die oorlewingsnoodsaaklike is in rekorttyd ingepak.  Die mans het ‘n put gegrawe diep in die bos en eenkant agter ‘n lap afskorting was die “bad”kamer. Blinkvet springers is op ‘n kliphoogte kolevuur gebraai. Later het die kindertjies op ‘n bos-krismisbed ophou veg teen die slaap terwyl ons agter in gematrasde bakkies met oop klappe teen mekaar lepel gelê het teen die kleinnag koue. Natuurlik was almal gesmeer teen die muskiete, want sonder sitroen-olie behoort geen regdenkende mens ooit te probeer uitkamp nie.
Ons Ford bakkie het ‘n “custom made” oorgetrekte matras gehad waarop die kinders in transito grootgeword het. In vandag se tyd sou so-iets dalk net so kommin voorkom as die ou groen tent, maar watter fees was dit om die kinders oral saam met ons te neem; geen probleem met vreemde slaapplek wat mens vroeër huis toe dwing nie. So kon ons menige kere sommer net die nodigste inpak en iewers in die natuur gaan aandkos maak en oornag. Die Nuwejaarsnag by Agulhas was ietwat senutergend, want toe die dansplekke vroegoggend toemaak, sak ‘n horde jongmense op die Punt toe met musiek, drank en ‘n gevloek en wat nog alles wat enige mens, groot of klein, se hare laat rys.
Ek sal my nou nie inlaat vir drie weke vakansie in ‘n tent nie; gee vir my ‘n nag of twee in die natuur en ek is tevrede. Gee vir my ‘n daklose nag in die diepKaroo met ‘n styfgestopte strooimatras, ‘n vellekombers en ‘n heelnagvuur en ek spin soos ‘n tevrede kat. Wat kan dan mooier wees as die Vader se sterretjiehemel bo mens se kop?  Dit is een ding wat ek nogal teen karavaan- en tentontwerpers hou: die toemaak teen die uitspansel. As daar iewers ‘n tent is met ‘n “convertable” dak, sou ek graag so een wou hê.  Een wat ek bedags kan toemaak teen die son en snags kan oopmaak om die sterre te kan kyk. Maar, ek is seker maar die “weirdo” wat nie aan die einde van ‘n kampdag kuiervoos op die bed neerplons en in ‘n beswyming val onder ‘n dak van seil om ‘n kloppende kop te beskerm teen die strale van die volgende oggend se te skerp oggendson nie.  Dalk weet ek net nie hoe om regtig te kamp nie?