Skoon Blad

Vir menige ouers het die jaar 2013 amptelik begin toe die skole heropen het. Daar was sekerlik ‘n paar mammas wat met ‘n sug van verligting ‘n uniform-kind totsiens gesê het en langs die tafel gaan sit het met ‘n warm beker koffie. Uiteindelik weer alleen. Tyd vir haarself om die huis van ‘n kant af te kan skoonmaak en orde skep na die vakansie. Tyd om net aan haarself te bestee.

Vakansie is ‘n besige tyd met min roetine vir die vrou van die huis. Die andersins vasgestelde ontbyttyd strek nou van Pa se opstaantyd tot die kinders se opstaantyd. Niemand wil meer pap vir ontbyt eet nie. Die yskas word oopgepluk, die broodblik gaap en krummels lê besaai op die kas vir die grootste deel van die oggend. Nes alles opgeruim is, kom die volgende een om nog ‘n happie te kom maak.

Die eindelose vloei van skottelgoed laat mens soms tou opgooi. Gaan die  opwasbak ooit weer vir langer as ‘n halfuur leeg en skoon bly?  En hoekom het die wasgoedmandjie skielik  sy boom verloor?

Veral met tieners in die huis – so onthou ek dit – moet mens vakansietye maar sommer net oorgee om jou sinne te kan behou. Hoe gouer, hoe beter.  Hierdie spesie het geen konsensie nie.  Wanneer hulle eendag  uit hul kamers kom, is jy alreeds besig met die voorbereiding vir die middagmaal – wat hulle in elk geval nie gaan eet nie. Terwyl hulle in die kombuis besig is, moet jy maar liefs gaan onkruid wei in die tuin. Kom bereken maar die skade agterna en maak ‘n nuwe inkopielysie. Die kaas en koue vleis sal op wees; as jy gelukkig is, sal daar twee broodkorsies in die blik oor wees. En dan, soos mis voor die son, raak hulle weg.  Of hulle raak drasties meer wanneer pelle begin om die spasie wat jou omgedolwe huis is, binne te spoel. Jy het nie die kans van  ‘n  veldmuis in ‘n arendsnes nie.

As jy een van die gulhartiges is wie se huis as vakansiehuis vir ver familie oopstaan, voel jy seker by hierdie tyd om jou kop toe te trek en net te slaap. Vandat hulle gebel het om te vra of julle die vakansie tuis is totdat hulle voor die deur stilhou, kon jy net nooit ‘n ja of nee inkry tussen hul opgewondenheid om see toe te kom nie. ‘n Mens wil ook nie onbeskof wees nie. Maar as hulle darem voor die deur stop met drie kinders meer as wat die telefoon gemeld het, verwelkom jy hulle maar met ‘n diepe skynheiligheid.

Hulle manier van vakansiehou behels alles waaraan jy nie gewoond is nie. Die waterrekening skiet die hoogte in; niemand het ‘n tyd vir enigiets nie; hulle koop pizzas om drie-uur in die middag te eet en steek ‘n braaivuur aan tien-uur in die aand. Die waskamer se vloer lê vol wasgoed wat hulle jou verseker jy nie hoef te was nie. Tot die dag voor inpaktyd. Dan vra hulle vir jou of jy vandag die wasmasjien gaan aansit en raak gerieflik besig om onder beddens en agter banke te soek vir dit wat hulle weet hulle saamgebring het maar nie kan vind nie.

Jou eerste sug van verligting is die agterste nommerplaat van hul vertrekkende voertuig. Tydens die opruimproses laat jy dit sommer luidkeels vir jou eie kinders hoor dat die gemors nou en hier eindig. Vir die res van die vakansie gaan daar orde in jou huis heers. Maar dit duur presies ‘n halfdag. Nou kom nuutgevonde vriende van vriende ook nog by om die huislikheid van jou deurmekaar huis te kom deel.  En jy verseker jou moeë self dat dit beter is as wanneer die kinders die strate en hole vol lê.

Met die laaste bietjie krag uit jou reserwefonds gaan jy die skoolklere na en versoek en vra en smeek dat die kinders hul skooltasse in orde kry. En dan is hulle weg. En jy sit voor ‘n nuwe boek met ‘n skoon blad. Uiteindelik!

Carien Badenhorst