Vrot van die lekkerte

Op Matjieskloof staan ‘n mispelboom, een van die min plekke waar ek dit al gesien het.  Elke  winter het ek twee sakke van hierdie onbekende vruggies daarvandaan gekry, maar die boom se mense het verhuis Kammieskroon se wêreld toe.  Hulle kom nog kuier, maar die mispels is ek vir ewig kwyt.

Min mense ken mispels, daardie kastaiingbruin vruggie wat mens eers eet wanneer dit binne al papsag is. Ek gaan soek op die internet. Daar's Mispelstraat en -laan in die Kaap, -bergfietsklub in Pretoria. Bergmispels (Tapiphyllum parvifolium), bosmispels (Vangueria cyanescens) hoofsaaklik in die noorde van die land. Die gewone mispel (Vangueria infausta) se natuurlik habitat is die Zwartkloof privaat wildreservaat by Bela Bela. Skrywers Jeanne Goosen,  Ryk Hattingh, Gustave Preller het dit gebruik en  Antjie Krog kies die mispel as een van die komponente van "language of paradise" in haar verhandeling "Country of my Skull" in 1998.

As kind het ek met die vruggie kennis gemaak in die Grootjanne se tuin onderkant Napier se hoofstraat. Geen voëlverskirkker kon kers vashou by oom Jurietjie, die tuinier nie. Vanaf die leivoor neffens die straat tot doer onder teen die Klippedriftrivier was dit sy koninkryk. Nie net het hy oë agter sy kop gehad nie; selfs wanneer hy gebukkend gestaan en plant het, het hy ‘n agter-oog gehad soos radar.
Af en toe het ons vier dogters – dis nou die Grootjan-kinders, ek en my suster -  toestemming gehad om mispels te gaan pluk. Die jongste, verstaanbaar die kleinste Grootjan, was die klimmer. Totdat sy eendag uit die boom geval het. Ons ander drie het gepaai, spoeg aangesmeer, haar mond toegedruk en gesmeek dat sy tog nie moet huil en huis toe hardloop nie, want dan was ons tuindae getel. Daar was immers nog die somer met ertjies en vrugte wat voorgelê het. Ek was tweede jongste. Die lot om te klim het op my geval. My sus was in elk geval nie 'n boomklimmer nie en die oudste Grootjan was al te groot.  ‘n Mispelboom is nie baie stewig van tak nie.
Op wettige plukdae het ons 'n mandjie gekry wat ons kon volpluk. Ek was maar ‘n stadige plukker, nie omdat ek bang was vir die klimmery tussen die digte takke en blare nie, maar omdat ek gespeel het vir tyd om sommer in die  boom te sit en eet. Na verdeling van die oes in die mandjie, was my tande net deurmekaar gemaak en my lus nog nie oor nie; ek moes dus selfvoorsienend optree. Ek meen, soms is hulle al so sag dat mens hulle sommer stukkend gedruk het en dit maak tog net ‘n gemors in die mandjie.
Maar natuurlik was daar ook onwettige stropery. Oom Jurie het ‘n vryery oorkant die driffie gehad by die tannie met die traporreltjie. Dit was ons kans. Doerie tyd het ek dit nie besef nie, maar so 'n mispel-etery kan nogal 'n romantiese affêre afgee as die vryer die kroontjie vir sy nooientjie uitbreek, die stingelkantjie saampers en die peulende, melerige vleisie behaaglik versigtig tussen haar  pruilende lippies indruk. Wat hulle dan met die pitte binne die vleisie gemaak het, kan ek my glad nie voorstel nie. Dis darem seker nie fatsoenlik vir ‘n dame om  vyf of ses pitte so voor ‘n vryer in jou hand uit te spoeg nie. Hy sou seker maar die ridderlike ding moes doen om haar te  help ontslae raak daarvan? Sy had geen kind meer in die huis nie en hy had geen kraai nie. Daar was dus niemand om te roep dat die kers uitgebrand is nie; ook niemand om te bepaal of die laaste pit in of uit was nie.  My dae van mispels is onherroeplik verby. Al wat ek darem nog oorhet is die witblits en mispel likeur in die boonste kas. Nie vir drink nie, maar vir onthou: daardie uniek-anderse soetheid met die effense frank-suur van fermentasie.  Maar hulle is g’n  vrot soos wat mense wil beweer nie, hulle is net goed ryp. 

Carien Badenhorst