Die Boet van visnette

Silver Snapper se Ockie Viljoen (skipper) saam met sy kleinseun, Jacques Viljoen tydens die boet van nette

Die "boet" van visnette en enkele ander "volksmond" woorde, het verskeie interessante weergawes opgelewer. Jaarliks is dit 'n groot bedrywigheid in die hawe-area met die ansjovisnette wat oopgespan lê en almal werk saam daaraan voordat die visvangseisoen vir die vissersskuite weer open.

Die boet van nette word deur die HAT as die "herstel, regmaak: visnette word geboet" beskryf. Philip Fourie, ingenieur van Gansbaai Marine en 'n interessante persoon om mee te gesels, vertel dat spesiale breipenne vroeër jare, voordat daar met meganisering begin is, gebruik is om die nette mee te brei of nette met groot "mase" (gate) te herstel.

Almal is dit dus eens dat die "boet" van visnette bloot op die herstel daarvan dui. Die "mas" (volksmond in Gansbaai, maar eintlik "maas") van nette het meer as een verklaring opgelewer. Woordeboeke verwys na "maas" as "opening, ogie gevorm deur kruisdrade" en "ogie van fyn netwerk".

"Twine", die Engels vir "maas", dui op die grootte van die gate in die visnette. Dan word daar ook gepraat van visse wat "ge-mas" het. "Dit is wanneer visse in die kuil van die nette moet inswem, maar dan in die net se mase (nie "masse" nie) verstrengel raak. Dié visse word dan 'stekers' genoem.

Vlnr is Jan Human, Apie van der Raath, Piet Otto (Skipper, weggesteek), Vleis Vermeulen, Johan (Visgees) Marais en Ben Oosthuizen van Kolgans tydens hulle boet van nette

By Pelagiese vissers is dit nie welkom nie, aangesien dit 'n enorme ergenis is om die vis weer uit die nette te kry," vertel Philip. "Ander tipe nette wat gebruik word om aas (sardyn) mee te vang, staan weer bekend as "grootmas-nette". Die bemanning van Bella Prima  verduidelik soos volg: Die boonste ry groot gate van die net word "ge-boet" en dan "mas" hulle die net, bedoelende hulle werk die verskillende bane aan mekaar vas. In hulle geval was dit 4 bane, wat elk ±50 faam (±100m) lank is, wat hulle aanmekaar vasgewerk het.

Die interessante woord "seën" word deur woordeboeke beskryf as "Seën (seëns) - "visnet" (zegen/seine)". Philip verduidelik dat "seën" afgelei is van "sein". Trek die seën in, beteken om die visnet met vis in te trek. Wanneer nette gestel word om vis te mas, staan dit as stelnette bekend. Dit is vroeër jare vir haaie, galjoene en harders gebruik, maar Philip sê diè metode is lankal reeds verbode.

Die woord "beurs" ("purse") word gebruik vir nette wat byna soos 'n beursie toetrek. 
en sardyn gebruik. "Net vir die interessantheid daarvan kan ek noem dat die meeste van ons 'skeepsterme' vanuit Hollands afkomstig is," sê Philip. Hy vertel ook dat vissersbote eintlik vissersskuite is en dus word daar eintlik van 'n "skuitbaai" gepraat en nie van 'n hawe nie. Dan was daar natuurlik plaatskuite (van sinkplaat gemaak), oopskuite en seilskuite. Duikbote is nie hierby ingesluit nie, aangesien die ouer garde dit nie geken het nie! Lees volgende week die interessante verhaal van dolosse in 'n hawe, of te wel" in 'n "skuitbaai".
Hardus Botha