Gee die donkie n purse

Daar het onlangs op facebook ‘n  foto gesirkuleer van ‘n donkie iewers in Mexico wat in die lug hang voor ‘n oorlaaide karretjie. Ek het dit jare gelede al in ‘n tydskrif gesien en dit was vir my so tekenend van die lewe. In elkeen van ons is so ‘n donkie.
Ek het ‘n broertjie dood aan ‘n handsak. Die tye wanneer ek myself probeer netjies hou, soos ander vroue, gly die bande van my goed geronde skouers af. Dit neem ook net drie drae voordat ek begin vroetel tussen alles wat onnodig daar ingeprop is, om te kry wat ek wil hê. Dis dan wanneer ek vir handsak op die bed omkeer, alles wat waarde het sit daar waar dit moet wees en die handsak in die heel boonste rak van die kas gooi. Agterin, waar ek ‘n stoel nodig het om dit weer uit te haal. Al wat ek nodig het, is ‘n Engelse “purse” per geleentheid. As ek dorp toe gaan vir my selfoon en beursie; as ek uitgaan vir my lipstiek, parfuum en oogpotlood. 
Op skool was ek, volgens die onderwysers, nie goed genoeg nie. Vir elf jaar lank. Tot vandag toe manifesteer dit nog steeds wanneer ‘n situasie of iemand se woorde daardie persepsie “trigger” ongeag of dit relevant is tot die situasie of nie. ‘n Mens se persepsie word jou eie realiteit.  As jongmens was daar die seer van ‘n verlore liefde. Daarna was ek sinies oor enigiets wat gelyk of geklink het na liefde.  In die volwasse lewe kom daar meer as oorgenoeg bagasie wat mens saamdra.  Soms voel ons slagoffers, soms skep ons slagoffers. Teleurstelling, woede, verlies, daardie bagasie wat ons siel en gees vermoei, beroof ons van rasionele denke en optrede. Dit beroof ons van lewensvreugde, kreatiwiteit en produktiwiteit. Eweneens verander dit ons denkpatrone. Ons hang soos die Meksikaanse donkie in die lug en daar is geen vastigheid onder ons voete nie.
Van donkiedae en handsakke het ek genoeg gehad. Vir ander mag dit moontlik nie so maklik wees nie, maar die Golgota roete deur Getsemane wat ek gevat het, is aan te beveel.
Ons is eintlik drie-dimensioneel van aard. Buitekant is die liggaam, in die middel is die siel en ons diepste wese bevat ons gees. As geleier tussen die liggaam en gees, huisves die siel die verstand, emosies en die wil. Dit is hier waar ons moet begin om die donkie weer op die grond te kry.
Kom ons gebruik ons verstand om stilte te soek en die bagasie wat ons dra aan onsself te erken. Voor mens dit nie aan jouself erken nie kan jy daar niks mee maak nie. Gooi uit die handsak, skud uit die voering.
Volgende span mens die emosies in. Jy huil daaroor om klaar te huil en jy gooi al die porselein en glas in jou kas op die vloer neer om van die woede ontslae te raak. Vir ‘n sagter aanslag, gaan sit by die see, skryf elke pla-ding op ‘n klip en gooi dit see in.
Terwyl mens dit doen, is dit nodig om die wil ook in te span. Huil omdat jy wil skoonmaak; gooi stukkend omdat jy wil sag word binne; gooi die klip omdat jy wil versuip.  Vir die volgende stap het jy net jou wil(skrag) nodig. Vergewe. Jouself sowel as die ander met wie jy ‘n stryd gehad het. Spreek vry die situasies of persone wat jou belas het met oorlading.  By hierdie tyd is die donkie al op die grond, omdat die oorlaaide karretjie afgepak is. Al wat oorbly is om seën uit te spreek oor die leë karretjie. Ag, en seën maar die ou donkie ook wat altyd die sware las probeer saamsleep het. Span hom uit en laat hom in groen weivelde wei. En as jy hom weer moet inspan, gee hom net ‘n “purse” wat gemaklik om sy nek kan hang.
Daar is niks so bevrydend as om van oortollige bagasie ontslae te raak deur te vergewe, vry te spreek en te seën nie. Al wat mens daarvan oorhou is die wete dat wat iemand ookal aan jou doen en wat hulle ook al vir jou sê, nie weer op jou karretjie gaan beland nie.