STOUT MET GOEIE REDE

‘n Mens mag soms, moet soms ongehoorsaam wees  aan jou ouers. Anders gaan jy nie leer nie, veral nie om selfstandig te dink, verantwoordelikheid te aanvaar  en die regte keuses te maak nie.

Een van die Voorskrifte wat ek in die jonkheid ter harte geneem het, was om  alles te beproef en die goeie te behou. Op pad Kaap toe vir my eerste betrekking na matriek, het  Mammie my twee waarskuwings gegee. Oor en oor. “Asseblief, moenie in nagklubs ingaan nie en moenie met ‘n matroos uitgaan nie.” 

Ek wou nooit in die Kaap gewees het nie, nog minder elke dag agter ‘n lessenaar sit en regmerkies maak op vorms waarvan ek niks verstaan het nie. Dit was dus onafwendbaar dat ek iets substansieels met my Kaapse tyd moes doen. En wat beter as om dit te gaan doen waarvoor my ma my nuuskierigheid geprikkel het: nagklub toere. Met haar waarskuwing darem nie heeltemal in die wind gestrooi nie, trek ek ‘n skoolmaat - toe polisieman  - nader as eskort. Hy dink dit goed om versterkings in te roep om ses kleindorpse meisies aan die Kaapse naglewe te gaan voorstel.  Hulle kom tienuur die aand van diens af  en elfuur stap ons by Navigator’s Den in.  My eerste skok kom toe die natuur roep en ek die trappe opgaan. Die eerste vakante hokkie se mure is vol bloedspatsels. Die tweede een lyk sleg, maar nie te sleg as mens op jou hurke sit nie. Dis egter die vreemde gehyg vanuit die hokkie langsaan wat my vinniger daar uitkry as wat goed is vir my blaas. Twaalfuur kom. Sondag ook, maar daardie vergifnis  sou ek  later voor vra. Ek wag vir die Japanese inval van die hawe af. Mens moet gladnie met hulle oogkontak maak nie, want dan dink hulle jy stel belang, so is ek ingelig. Halfdrie sê Piet Poliesman: “Kyk by die deur, maar hou jou ongemerk.”  Drie rondekoppies met amandelhalwe ogies loer bokant mekaar   om die skrefie-deur asof hulle iets of iemand soek. Toe ek weer kyk – ek ken mos nie sulke mensies nie – kyk ek vas in nommer twee se swart ogies. ‘n Angs oorval my en ek skuildans agter die poliesman tot by ons tafeltjie, smekend dat ons net moet uit. “Nie nou nie, ons wag eers tot hulle weg is” laat my in koue sweet uitslaan. Wat gaan my ma sê as hulle my aan die hare dokke toe sleep? Na hierdie trauma gaan ‘n paar maande verby voordat ons die ergste van die ergstes, Catacombs, aanvat. Hier vorder ek net ses trappies na die pikswart, rookbenewelde “grafkelder” toe voordat ‘n engtevrees, gemeng met ‘n soet, bedompige reuk my stroom-op teen die instromende massa  laat beur vir vars lug. ‘n  Nosem met toue vir hare steek ‘n arm voor my in  en sê in ‘n wynskor stem: “Wrong way lovey, come with daddy.” Ek stormduik onder die arm deur. Vir daardie hool het ek nie kans gesien nie. Volgende aan die beurt was Darrel’s, die klub waar die koninginne van die nag uitgehang het.  Hetro’s is eintlik nie baie welkom nie, maar met goeie gedrag kon ons dit dalk maak.  Goeie gedrag behels geen mnagting.  Weereens moes ek tot na middernag wag vir opwinding toe Piet Poliesman bokant Pink Floyd in my oor skree: ”Kyk hier langsaan ons, die oranje rok.”  Hy sien die vraag tussen my wenkbroue en skree weer: “Kyk die bene.” En toe lag ek. Enigeen sou. Onder die  klewende, oranje wetlook rok pryk ‘n paar lenige, welgevormde, gespierde, harige mansbene in wit polfye. En dit dans met daardie kuite dat ‘n erdwurm wat op sy rug lê en wriemel sou skaam kry. Ek tranelag my tot buite op die sypaadjie.

Ag nee wat, ek het gesien dit  Mammie nie wou gehad het ek moes sien nie, ek het beproef  en behou. Met ‘n matroos het ek nooit uitgegaan nie.  Met die veronderstelling dat om tydens ‘n bootreis elke aand met dieselfde offisier te dans  en  saam met hom na die kaptein se kajuitpartytjie te gaan, nie tel nie. Ons kon sekerlik  die “uitgaan” status bereik het,  maar gelukkig was die reis verby en kon ek die versoeking saam met Matroos op die boot agterlaat.