Die Dolos-verhaal

Vir vele lesers is dit seker "ou" nuus dat dolosse wat by hawens gebruik word, 'n Suid-Afrikaanse uitvinding is. Min is egter bewus van die interessante verhaal daaragter. Hierdie ongewone betonblokke weeg tot soveel as 20 ton.

Mike Bruton se boek, Great South African Inventions (Cambridge University Press. 2010.) in Gansbaai Biblioteek verskaf interessante feite oor die "dolos-verhaal". 'n Hawe ingenieur van Oos-London, Eric Merrifield het aanvanklik die erkenning ontvang vir die uitvinding van dolosse. Dit was een van Suid-Afrika se mees bekendste uitvindings en is aanvanklik die "Merrifield block" genoem.

Dolosse "aan die werk" in Gansbaai nuwe hawe

Latere navorsing het egter getoon dat die werklike uitvinder van dolosse inderdaad Merrifield se jong ontwerptekenaar ("draughtsman"), Aubrey Krüger was. In 1966 het Krüger 'n opdrag van Merrifield ontvang om 'n betonstruktuur te ontwerp om die Oos-Londonse hawe van breekwater te beskerm. Krüger het tuis met besemstokke, -handvatsels en tou geëksperimenteer.

Sy eksperiment het ontwikkel in 'n ontwerp wat soos 'n "H" gelyk het, met die een been 90° gedraai. Merrifield het van Krüger se ontwerp gehou en hom opdrag gegee om daarmee voort te gaan. Kort daarna is die eerste volgrootte beton-dolosse gegiet. Dit is op die rand van die breekwaterstrook van die Oos-Londonse hawe geplaas.

Daarna het ander Suid-Afrikaanse hawens gevolg met Gansbaai se hawe wat, volgens oorvertellings, die tweede hawe in die land was wat dolosse gekry het. Die effektiwiteit van dolosse is nie daarin geleë dat dit die krag van die oseaan teëstaan nie. Die drie-dimensionele (3D) vorm daarvan, asook die spasies tussen die soliede "betondoppe" ("concrete pods"), versprei wel die energie of krag van die golwe. Voorts bring die samevoeging (inskakeling) van die dolosse met mekaar 'n gesamentlike en stewige struktuur mee wat "saam met die see beweeg".

Die "dolos-nuus" het vinnig wêreldwyd onder kusontwikkelaars versprei. Ongelukkig vir Suid-Afrika, het nie Merrifield óf Krüger 'n patent vir hierdie uitvinding geregistreer nie. Hulle het dit as die eiendom van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawedienste beskou, wat die uitvinding ook nie gepatenteer het nie. Maatskappye in Noord-Amerika, Europa en die Verre Ooste het as die vervaardigers van dolosse die voortou geneem.Tans is daar miljoene dolosse wat in meer as 100 lande gebruik word. In 2010 is daar met die vervaardiging van die wêreld se grootste dolosse begin om die 2.5km breekwater by die hawe van Ngqura by Coega, sowat 20km Oos van Port Elizabeth, te tem. Twee-verdieping hoë dolosse van 30-ton elk is vervaardig (sowat 26,500 ton). Die hyskraandrywer moes die voorskrifte om die dolosse aan die punt van die hyskraan korrek geplaas te kry, vanaf GPS-drukstukke lees wat vanaf die stelsel aan hom gestuur is. Dolosse in blokvorm (sien skaalmodelfoto) met gate daarin, is ook vervaardig. Hierdie dolosse word in sommige gevalle effektief as 'n "basis" vir die H-vormige dolosse gebruik wat bo-op die blokke geplaas word. Bykomende voordele van dolosse, wat nie so beplan is nie, is mettertyd agtergekom. Die groot verskeidenheid van holtes en spasies tussen die dolosse voorsien 'n veilige en beskermde habitat aan 'n magdom van seeplante en -diere.

Die skaalmodelle tydens die vervaardiging van Gansbaai hawe se dolosse

"Mense, veral hengelaars, besef net nie altyd hoe gevaarlik dit op die dolosse kan wees nie. Daar is vele voorbeelde waar mense al tussen die dolosse ingeval en verdrink het of ernstig beseer is," vertel Philip Fourie, ingenieur van Gansbaai Marine.

Merrifield het al die erkenning van hierdie suksesvolle uitvinding ontvang. Hy is selfs na Japan gevlieg waar hy die wêreldbekende Shell Design Award ontvang het.

Gansbaai dolosse by die Nuwe Hawe met die uitvinder, Aubrey Krüger op die inlasfoto.

Die laaste wat in 2010 van Aubrey Krüger bekendgemaak is, is dat hy as 'n eenvoudige pensionaris naby Port Alfred afgetree het. Aldus Port Alfred se Toerismeburo het hy later na Port Elizabeth verhuis waar hy verlede jaar oorlede is.           
Hardus Botha