Ry hom my Oom!

Een van my groot lekkertes  in die lewe is ‘n Kaapse, Kanaladorpse taxi. ‘n Jaar of wat gelede gaan ek saam met Vriendin  na die Britse Konsulaat vir haar visum. “Het jy al in ‘n Kaapse taxi gery?” vra ek en besef onmiddelik dat dit  nie die beste van idees is nie. Met haar uitgesprokenheid kan dit dalk op ‘n fiasko uitloop. Sy kies die blinknuwe donkergroen BMW, terwyl  ek woordeloos op pad is na die 1980 Mercedes met die gryskop  Maleier bestuurder.  Gelukkig  spring  ‘n  gepakte, gedasde besigheidsman by die BMW se deur in.  Ek sien sommer aan Vriendin se aarselende houding sy is nie eintlik geneë tot hierdie ou kar nie, maar ek druk haar voor my by die agterste deur in.  Ek gee die adres en Vriendin probeer nog die pad verduidelik,  maar Jakob  sê hy wiet, hy wiet, hy ry al vir ses en dertig jaar hier.
Oom Jakob vlieg met ons weg  dat ons vasgom teen die kussing.  Twintig treë voor ons flikker Strandstraat se robotlig ‘n skel oranje. “O (groot bliep)!  Die robot is...!”  gil Vriendin, maar voordat sy kan klaar praat, is ons al oor. Oom Jakob kyk oor sy skouer om haar te paai terwyl hy oor twee bane in Strandstraat sny. Ek probeer  verskoning maak by die oom sodat hy net weet dis haar eerste keer.   Binne sekondes bereik ons Adderleystraat se robot. Rooi!  maar nie rooi genoeg vir hom  om spoed te verminder nie. Ek vertrou maar dat hy seker wis die lig gaan binne breukdele van ‘n sekonde oorslaan na groen, maar selfs vir my is daar nie tyd om te kyk of dit werklik so is nie.

Volgens die deining van die Merc se vere en Vriendin wat in die lug gryp vir vashouplek, weet ek ons is alweer dwars oor al die bane om in die linkerkantste een te eindig vir die opdraai in Riebeekstraat. Ek sit nou voor op die sitplek met my arm geanker op die voorste sitplek se leuning.   Langs my slaan Vriendin ‘n komiese prentjie met haar handsak teen haar bors, die oë vol doodsangs terwyl  onwelvoeglikheid oor haar lippe stroom.  Ek sluk twee keer aan die lag in my keel.  Tussendeur vertel die oom dat sy pa ook ‘n taxibestuurder was en dat dit maar in sy bloed is. Asof hy probeer verskoning vra vir Vriendin se ontsteltenis.

Riebeekstraat is een van daardie straatjies waar ons plattelanders  sou reken ‘n mens net met ‘n scooter bike tussen die geparkeerde voertuie kan deurkom, maar oom Jakob bewys dit anders.  Die een oomblik wonder ek nog waar hy in hierdie besige straat gaan omdraaiplek kry, want ons is reeds verby die gebou waar ons moet wees. Die volgende oomblik pluk hy daardie Merc  reg voor ‘n aankomende trok oor dit wat veronderstel is die regterbaan van die straat te wees, gooi die outomaties in trurat en weer vorentoe asof dit ‘n stil laat Sondagmiddag in die middestad is. My andersins bekkige vriendin  is stil. Sy druk en por my om uit te klim terwyl ek die oom se telefoonnommer neerskryf vir die terugrit se kom haal.  Buite op die sypaadjie kan ek my ingehou lag se leisels verslap terwyl sy gruwelik verbaal van haar angs ontslae raak. Nee dankie, sê sy, sy stap terug, al is dit hoe warm, maar ek weet dis sommer net sê.

Ure later, met die terugrit, neem die oom ons in Adderleystraat op, via Langmark-, Parlement- en Darlingstrate tot terug by die staning onder in Pleinstraat.  Genadiglik vir Vriendin is dit almal linksdraaie  en grawe sy nie in haar handsak vir haar testament nie.  Ek groet oom Jakob met ‘n weemoedigheid. Sou hy ‘n seun hê wat met dieselfde passie sy werk sal voortsit, of gaan ook hierdie kultuur verswelg word deur toeterente, oorlaaide minibusse?

Tuis sê ek vir my kindergoed: “Julle kan van brûe afspring of met vlerke in die lug sweef net soos julle wil, maar as julle nognie saam met ‘n hadjie se taxi in die Kaap gery het nie, het  julle eintlik maar nog niks gedoen nie. Dis ‘n klein stukkie van die lewe wat mens net moet ervaar.”
Carien Badenhorst