Saktyd in oestyd

Tydens oestyd streep  groen John Deere stropers  soos reuse  afbeen  sprinkane op  die rûens  se graanlande.  Binne die kajuit van die stroper  lees die bestuurder  die dag se koerant  terwyl hy net af en toe   na die kontrolebord  voor hom loer en  die land  vinnig verspied vir die naderkom van die wenakker.  Die radio speel  RSG en ‘n  glas yskoeldrank staan eenkant  sonder ‘n rittel-rimpel op die oppervlak.  Die hidroliese veer-en balanseerstelsel van die masjien sweef oor knik en klip soos ‘n skeertuig.  Die lugversorger suis ‘n windlose koelte deur  die hele kajuit .  Stof en gars-angels is ‘n ongehoorde, ongesiende, onjeukende  deel van die oesproses.


‘n Mens kan nie anders as om met groot eer en respek terug te dink aan die vorige generasies  se manier van oes nie.  My kinders se oupa het nie self ‘n stukkie land of ‘n stroper gehad nie, maar was elke jaar ‘n oeshulp vir iemand iewers in die Overbergse rûens.  Dit  was soms ‘n voorreg om ‘n draai saam te ry op ‘n  rooi McCormick. As ‘n boer ‘n John Deere – goediglik Johnie my Darling genoem  -besit het, was hy gelukkig om drie of vier rekordoeste na mekaar te kon in.  Koöperasieskuld was ongehoord.
Daar was ook net een plek  op die platform waar ‘n kind kon staan en kyk hoe die  die pitte in sakke uitgepomp word. En daar sou jy staan,  al nies en proes jy jou dubbeld van ‘n oordosis graanstof; jou voete mog jy nie roer nie. Eintlik was dit meer pyniging as plesier, maar dit was opwindend anders. 
My pa was die een wat die sak onder die sluis moes uithaal, dit kundig toerol en met ‘n saknaald en tou toewerk voordat hy dit vir die sakman aangegee om in die geut af te gooi.
Wanneer die geut vol was, het die sakman ‘n draad hefboom getrek wat die losknip  ontsluit sodat die sakke in ‘n sierlike hopie op die land lê,  reg vir die rugbreekwerk om dit op ‘n wa of vragmotor te laai en weg te ry.
Die sakman was ook daarvoor verantwoordelik om, onmiddellik nadat een sak onder  die sluis afgehaak, is, ‘n ander een aan te haak, want as die graan geloop het, het dit geloop.  En mors  was nie ‘n woord in daardie tyd nie. Alle ongelukke is met ‘n graaf van die platform af geskep en terug in die sak gegooi.
Tommie was eintlik die sakman,  maar was om die een of ander rede nie dié dag daar nie. Jan Bokkiebek moes instaan as sakman. Sy eintlike oesnering was om agter die stroper te loop en al die los are op te tel om dit weer voor op die ry te gooi. Bokkiebek was nie ‘n stapper nie. Hy het ‘n aardige styfheid in sy bene en heupe gehad. Vinnig was hom nie uitgedeel nie en hy was glad nie ‘n kandidaat vir platformwerk op ‘n stroper nie. Hy was die meeste van die tyd in sy eie pad; om dus onder iemand anders se lyf deur te werk om ‘n sak aan te haak en nog die geut ook dop te hou en oop te maak, was geheel buite sy vermoë, maar daardie dag was daar nie genade nie.
Dit was ‘n gekreun en geskel en terugpratery van ‘n ander aard, maar Bokkiebek het sy allerbeste gedoen, dit kon ek as kind darem sien. Dis net dat die koringare te vet was, die rye te dik en die sakke te gou vol geword  het vir vir sy vaardigheid.  Toe die bevel vir die soveelste keer kom dat hy moet laat Sak!  vang Bokkiebek se reeds verbouereerde agtervoet sy voorvoet.  Met die trek van die draad beland hy self in die geut, die stywe bene bo-oor die laaste sak.  Aan hierdie momentum had sy swaaiende arms geen keer nie en hy beland soos ‘n baba wat mens doek aansit  onder die gewig van vier mudsakke vol koring op die grond.
Wat die seerste gekry het, wis ons as kinders nie, maar Bokkiebek is darem nie dokter  toe nie; hy het net swaarder as gewoon-lik  opgestaan.  En was nooit in sy lewe weer ‘n sakman nie.

Carien Badenhorst