GAP Behuisingsprojek skop af

GAP Behuisingsprojek skop af

Gansbaai Courant

Beplanning en voorafreëlings vir die Gansbaai GAP projek het die afgelope tyd so goed gevorder dat die munisipale behuisingsimplementeerder, Motlekar, en sy kontrakteurs  vandeesweek (Vrydag 8 Maart) op terrein gaan wees. 

Die laaste struikelblokke is vandeesweek uit die weg geruim en die groen lig is Woensdagoggend tydens samesprekings met die Burgemeester, rdl Nicolette Botha-Guthrie, Voorsitter van die Portefeuljekomitee vir Beplanning en Infrastruktuur, rhr Pieter Scholtz, die Munisipale Bestuurder, mnr Coenie Groenewald, en verskeie ander rolspelers gegee.

Dit is voorafgegaan met ‘n vergadering op Dinsdag 26 Februarie waar die finansiële model vir die GAP projek en ander beginsels met die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings uitgeklaar is. Die model kom daarop neer dat behuisingsubsidiegeld gebruik word as oorbruggingsmeganisme om die projek vir alle partye bekostigbaar te maak sonder dat die projek ENIGE finansiële verpligtinge op die Munisipaliteit plaas. Die koste van die grond wat aan die Munisipaliteit behoort, word teen markwaarde van die eindverbruiker verhaal en grootmaatdienste word via die munisipale bedryfsreke-ning vir behuising en elektrisiteitsinfrastruktuur deur die ontwikkelaar gedra en van die eindverbruiker verhaal.

Burgemeester Nicolette Botha-Guthrie het daarop gewys dat die projek in die Agtjaarbehuisingsplan van die munisipaliteit opgeneem is en deel van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan vorm. “Ek is bly dat ons nou gereed is om met die eerste GAP-projek in Overstrand af te skop, want die behoefte daarvoor is reeds jare gelede geïdentifiseer, maar dit was eers nodig om verskeie prosesse af te handel om dit te laat realiseer.”

Behalwe vir die finale besluit deur die Raad oor die vervreemding van die bepaalde stuk grond, is daar geen ander statutêre proses uitstaande nie: Alle beplannings- en omgewingsgoedkeurings is in plek en appèlperiodes is uitgeloop. Die Raadsbesluit oor die vervreemding van die grond sal nou dringend hanteer word. Die munisipaliteit gaan geen bydrae maak nie - die grond word teen markwaarde, soos deur die waardeerder bepaal, verkoop. 

Die projek word in drie fases van ongeveer 50 persele elk aangepak. Omdat die koste van gedienste persele veel hoër is as wat die subsidie toelaat, word die tekort oorbrug deur die tweede en derde fases se subsidiebedrae gedeeltelik te benut om die eerste fase te finansier. Hierdie subsidiebedrae word ten volle verhaal met die verkoop van persele, terugbetaal in die munisipale rekening en dan aangewend om die volgende fase mee af te handel. Dieselfde geld vir die derde fase. Aan die einde van die projek het die munisipaliteit weer die volle subsidiebedrag beskikbaar om op ander behuisingsprojekte te gebruik.

Die prys van die huise is nog nie gefinaliseer nie, maar in hierdie stadium lyk dit of die eenhede na gelang van hul grootte vir tussen R350 000 en R480 000 bemark gaan word. Die ontwikkelaar (Motlekar) dra die bemarkingsrisiko en onder die huidige ekonomiese omstandighede is die verwagting dat die koste so laag as moontlik gehou sal word. Indien die huise nie verkoop word nie, sal die Ontwikkelaar na 36 maande die volle dienstekoste en erfprys aan die Munisipaliteit terugbetaal. 

Die munisipaliteit het reeds verlede jaar kennisgewings geplaas om belangstellende en voornemende kopers van huise te nooi om vir die projek op ‘n gedeelte van Erf  210 (Buitekant Straat), Gansbaai. Potensiële begunstigdes moes voldoen aan die kriteria vir deelname en oor  ‘n gesamentlike huishoudelike inkomste van R3501 tot R15 000 per maand beskik. Belangstellendes moes ‘n gesonde kredietrekord kon toon en nog nooit voorheen ‘n eiendom besit het nie.  Dié registrasies is in ‘n GAP behuisingsdatabasis opgeneem en aansoeke sal in volgorde van inhandiging gehanteer word.

Fanie Krige

GAP Behuisingsprojek skop af

Fanie Krige

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Transform Your Kitchen with S Heroldt and SMEG: Premium Luxury Kitchen

Transform Your Kitchen with S Heroldt and SMEG: Premium Luxury Kitchen

Revamp your kitchen with S Heroldt and SMEG!

S Herholdt
Draft AGM Minutes - 22 March 2024

Draft AGM Minutes - 22 March 2024

We're pleased to share the draft minutes of our Annual General Meeting held on March 22, 2024. 

Updated Constitution - March 2024

Updated Constitution - March 2024

We are thrilled to announce the release of our updated Constitution for the Pearly Beach Ratepayers Association, effective March 2024. 

Luxe Travel Awards 2024

Luxe Travel Awards 2024

Over the past nine months, the Luxe Travel Award judges have traversed South Africa in pursuit of unparalleled hotel experiences.

Gans-Berg Nuus / News
Ooba's 7 Easy Steps to Own Your First Home

Ooba's 7 Easy Steps to Own Your First Home

Feeling overwhelmed by the homebuying process?

Olive Harvest Success and Limited Edition Olive Oil

Olive Harvest Success and Limited Edition Olive Oil

We're thrilled to announce that with the help of Elim Home Agriculture, we've had a successful olive harvest at Elim Home!

Elim Home
See All Articles