Sing van die wind

Wanneer  Van Donk sy kombers oor Tafelberg gooi en die  mammies op hul hakke loop, is dit nie meer Hollands in die Kaap nie.  Almal – behalwe die capies – se gesigte togmaar suur, maarwanneer s die Sedoos waai,  kan jy maar ‘n lanferlap laat neerdaal oor die Kaapse strate en sypaadjies; almal lyk asof hulle op pad is, of  pas terug is van  die hartseerste begrafnis wat hulle ooit in hul lewens bygewoon het. En daardie begrafnis kry nooit klaar nie,  dieselfde  kis sak keer op keer saam met die nuwe suidoosvlaag die grond in. Die kermgesang word oor en oor herhaal.

Staan  hierdie inwoners egter op ‘n glashelder dag in Tafelbergweg  en besing die asemrowende uitsig or die stad en die hawe,  is daar selde of ooit ‘n verwysing na Van Donk wat die grou miswolk oor Paardeneiland pas twee dae tevore die hemelsfeer ingeblaas het.  Die Kaapse Sedoos  is net so ‘n ekologiese wonder soos die bekroonde Tafelberg.  Dis die mens in sy onvergenoegdheid  en gemaksugtigheid  wat hierdie wind nie na waarde ag nie.  Sou hy op ‘n dag besluit hy is moeg daarvan om oor rots en krapperige fynbos  berg-af te  tuimel, sal die skone Kaap nie meer skoon wees nie.

Laat ons dus maar die oeroue man met sy bolwange eer en respekteer wanneer sy lang baard oor die tefel begin kruip.  Dis min genoeg dat mens jou drif en  frustrasies kan temper in ‘n passievolle omhelsing met  ‘n lamppaal in Adderleystraat.

Menige bloed-Gautenger  besweer enigiets wat  aan die Kaap gekoppel kan word  as komende uit ‘n heksepot.  Vreemd genoeg is die Stormers nie bo-aan hul lys nie enkan dit maar  as vir lief neem  dat hulle sekerlik ‘n goeie motivering daar-voor het.  Wat hulle die meeste grief  is ons wind.  Kan ‘n mens hulle daarvoor verkwalik?  Hierdie mense stap uit hul huise binne-in hul motors en  vanuit hul onderdak parkeerruimtes  direk in hul kantore in waar hulle die hele dag deurbring. Vanaand volg hulle dieselfde paadjie terug tot in hul kombuise.  Hulle weet eenvoudig nie wat wind is nie.

Naweke sal mens hul  heel waarskynlik aan die soom van ‘n ertjiegroen, hiasint-begroeide dam  onder ‘n lustelose boom  aantref met die geblêr  uit ‘n iewers nabye jonkmanskar  en  die geklingel  van  bierbottels .  So gewoond is hulle aan die gedruis  van die menigtes, ure se gesing van motorbande op asfalt, sirenes en taxitoeters,  dat die sagte ritsel van ‘n speelwindjie deur ‘n boom se blare vir hulle ‘n oorverdowende irritasie is.  Die enigste wind waarmee hulle wel handevat  is die geruislose koelte van  ‘n lugversorger  wat terselfdertyd  al wat kiem en allergeen  is loswikkel  en die beperkte kantoor- of voertuigruimte instuur op soek na ‘n teelaarde in een of ander hardwerkende neusgat.

Wind was vir my sinoniem met  die oggendpap en huisgodsdiens waarmee ek grootgeword het. Die winterwind  wat om die huis se hoeke gefluit het en die skuiframe soms gewelddadig laat rittel het – totdat dit knie gebuig het voor ‘n dawerende reënbui. Onder ‘n sagte kombers opgekrul in ‘n  gemakstoel of voor ‘n kaggelvuur, kan ek die woord “storm” nooit parallel bring met wind nie. Terwyl ander rondom my heelnag wakker lê uit vrees dat iets onder die aanslag sal meegee,  slaap ek met ‘n glimlag , kombers onder my ken ingewikkel, sielsalig in die arms van die windengel.  

Selfs  die maandelange suidoos is vir my ‘n vreugde. Hoe mis ek dit nie op  windstil  dae terwyl  die kwik in die termometer na kookpunt se kant toe dwing nie. Enige lesing bo twintig grade maak van my ‘n platgevalde soufflé.  Neem dan nog die wnd weg en ek raak ‘n eierlose soufflé. Nikswerd weggooigoed. My somerdeure en -vensters is altyd oop vir die lafenis wat oor die see aankom en soms ‘n bietjie van die Suidpool saambring.   

Gee my die wind. Enige wind.  Ek sal hom omhels en koester  namens almal wat hom verwerp en sy stof opvee met diepe dankbaarheid.  Die deure van my huis en siel is altyd vir hom oop.

Carien Badenhorst