Hengelrubriek

Twee kante van die saak

Beste nuus is dat die galjoenseisoen reeds oop is! Voorspoed.

Die afgelope naweek is daar weer snoekies aangekeer. ‘n Paar mooi hotties het hulle alie gesien terwyl ook romanne gevang is. Selfs ‘n verdwaalde skipjack is tussen die snoek gevang. Die manne wat op die hotties gekonsentreer het het baie goed gevaar en hierdie visse is nou vet-vet en in prima kondisie. Hulle sal wel binnekort kompetisie kry van galjoen se kind, maar in hierdie stadium moet die vetter hottie eintlik voorkeur kry.

Dit is nie moeilik om te beskryf waarom hengel so ‘n geweldig gewilde sport is nie en hoewel ek dikwels hierna verwys, wil ek vandag ook ‘n ander kant van die saak aanhaal. Ek dink daar is wel een vereiste  waaraan jy moet voldoen om te deel in hierdie plesier en dit is dat jy lief moet wees vir die see. Dan sal jy verstaan waarom dit so lekker is om vroegoggend op of langs die see te wees en daardie genoegdoening te smaak en die voorreg te ervaar  om deel aan hierdie aktiwiteit te hê. Dan kom ons by die hengel self. As jy eers op die boot is en sommer donker nog is jy see in, krap-krap jy aan die gevriesde aas en plaas ‘n paar sardyne in ‘n bietjie seewater om te ontvries. Jy wil mos nie tyd mors nie! Jou “tackle” is reeds by die huis al gereed gemaak en omdat jy voorbereid is weet jy vir watter vis julle gaan probeer. Baie min dinge gee soveel bevrediging as wanneer jou lyn in die water verdwyn en selfs nog voordat jy dit werklik verwag, ervaar jy jou eerste ordentlike byt (en hopelik hang hy sommer). Die opgewondenheid wat by almal posvat maak die verwagting net groter. Eers later die dag word daar aan koffie en iets te ete gedink  --  dis te sê as daar tyd is! Die stokhengelaar moet dikwels meer geduld gebruik maar wanneer sy visstok buig soos die ou grote sy loop kry, moet jy weet, dís mos opwinding.

Die ander kant van die saak? Dis hierdie aspek wat jou respek vir die see laat behou. Dikwels is daar die onverwagte gebeurtenis waaraan jy niks kan doen nie en op die ou end  sal jy dit op jou lys skryf van wedervaringe en kan “roem” op ondervinding.

Daardie brander wat skielik van nêrens opduik en net so maklik jou boot kon omgedop het. Jou een motor wat vir een of ander onverklaarbare rede skielik die gees gee  -   en dit net wanneer die see skielik opsteek. ‘n Stormwind. Ondeurdring-bare, digte mis. Slegs die regte agtergrond mag jou hier help, en ‘n GPS is ‘n goeie hulp ja, maar nie altyd die antwoord nie. Daar is tye wanneer jy die vis veral in die nag moet gaan soek en as jy nie weet wat jy doen nie, bly liewer tuis, ek gaan nie eens probeer uitwys wat verkeerd kan loop nie.

So kan daar aangegaan word. My opinie is dat, hoe meer tyd jy op see deurbring, hoe meer is daar die kans dat alles nie klopdisselboom sal gaan nie. Maar, en dis ook my mening, met tyd en met ondervinding en met die seën van Bo sal jy leer om hierdie onaangename aspekte so ver moontlik te beperk en op die aangename te konsentreer.

Dan sal jy met eerlikheid kan sê, dís die lewe!
Groete, Seemeeu