Die Stout Stoel

Nie die heelal se energiekste televisie-kyker nie, kom ek tog onlangs af op ‘n program van Supernanny wat ek jare gelede gereeld gevolg het.  Totdat dit my so de vieste in gemaak het dat ek dit afgesweer het. 

Vir my kleingoed was daar net een paadjie wanneer hulle regtig die grense ernstig oorgesteek het:  badkamer toe met die hande plat op die bad se vloer.  Menigmaal moes ek myself eers  afkoel  en instel vir  dit wat my te doene gestaan het .  En daardie gewag was vir die slagoffertjie/s  erger as die straf self.  Sal  hy weghardloop of maar gedwee  bly?

Die weghardloop-tegniek het wel kop uitgesteek.    Die laaste woorde wat in ‘n witkoppie se ore gesing het terwyl hy die agterhekkie agter hom toegeklap het was: “Onthou net, jy moet  een of ander tyd weer huis toe kom!”  Ook dit, reken ek,  was ‘n vreeslike swaard om oor die hoof, want hy het geweet  wat Ma sé, dit doen ma. 
Later het  die bad plek gemaak vir die inkorting- of inperkingmetode.  Om vir die duur van ‘n naweek  in werf-arres geplaas te word, was verskriklik.  Om te hoor hoe jou ma jou vriende aan die anderkant van die drumpel verduidelik waarom hulle nie mag inkom nie , sou seker ‘n paar ongemagtigde woorde die gedagtes laat inskiet het.  Selfs toe die kinders  al op pad was na volwassenheid, is hulle vir ‘n maand lank Die Stal, of enige ander Saterdagaand vermaak buite die grense van die werf ontneem. 

Omdat hulle – volgens hulle estimasie totaal onredelik -  ‘n uur later tuisgekom het as wat die  ooreenkoms was.  Soveel van soebat en smeek  en telefoonoproepe van maats wat vir hulle in die bresse probeer tree het, het ek nog nooit, voor of na daardie maand, beleef nie.  Verjaardae is aangebied;  die laaste uitgaan van die vakansie;  op tyd, Tannie, ons sal almal help toesien daarna;  asseblief Tannie.  Die meeste van hulle  was afhanklik van die blou Cortina bakkie vir ‘n geleentheid Stal toe. Dit was hulle grootste motivering. Tannie se ore was horende doof  en haar tong afgestomp van  dieselfde storie oor en oor herhaal.  Wie nie hoor nie, moet maar voel.

En dan kom Supernanny in ‘n huis waar die kinders  op die meubels spring, goed rondgooi  en in woedebuie  die ouers te lyf gaan en vloek. Sommiges van hulle se koppe kom nog nie eens bo die tafelrand uit nie. Die oplossing: ‘n Naughty Chair.  Al skoppende en spartelende  word  daai outjie nou sitgemaak, steeds gillend en skreeuend.  Ma en Pa moet dit ignoreer en aangaan met dit waarmee hulle besig was asof die kind nie bestaan nie – vir ‘n volle twee minute.  Of die kind nou daai stoeltjie se pote almal afbreek in sy tirade of nie, hy word in elk geval na ‘n minuut van sy sit onthef met die nanny  wat hom dwing om hande om die Ma se nek te sit en jammer te sé.  Skaars vyf minute later is dit dieselfde storie en nou is die ma of pa gatvol – wie sou nie wees nie. Die kind is  kamer toe geneem totdat hy afgekoel het.  Terwyl die ma die vorige orkaan se herstelwerk opruim,  plunder die kind gillend sy eie kamer, wat die ma weer sal moet gaan opruim. 

Kinders  sal altyd kanse vat om te sien in hoe verre hulle beheer oor hul ouers kan uitoefen. En jammerlik slaag hopeloos te veel van hulle daarin. 

As ‘n kind duidelik  weet  wat toelaatbaar  is en wat nie en as hy meer geprys word  vir elke klein dingetjie wat hy reg doen, sal  hy presies dit al hoe meer wil doen instede daarvan om aandag te soek met vloermoere.  Daar is nie ‘n geestes- en verstandelik gesonde kind in hierdie wéreld wat nie floreer op ‘n drukkie en aanprysing nie.  Dit is wat van hulle sterk en gedissiplineerde volwassenes maak.  Met, natuurlik, af en toe ‘n nodige en nie-wreedaardige raps met ‘n verduideliking.  Enige tyd van ouderdom twee jaar af  wanneer hulle al mooi verstaan  wat jy sé.  
Maar moenie sommer die stoutstoele wegvat nie.  Gee dit vir die ouers. Hulle het dit soms meer nodig.

Carien Badenhorst