Sophia se Paasfees

Die verkeer staan vandag weer stil, dink Sophia as sy van die kerk af in Hoofstraat indraai..  Die Paasnaweek het nog nie regtig begin nie en die Kreefderby is  eers môre.  Sy  vang vlugtig die beweging van wat na  ‘n optog lyk, op pad dorp uit.  Ag nee, al weer ‘n protes optog so op die langnaweek.  In  OK hoor sy hoe mense onder mekaar praat van die vreemde man  wat net kom moeilikheid maak hier.  Tyd vir luister het sy nie, want sy moet die laaste inkopies doen vir die troue wat môre op die plaas plaasvind en dan haar hare laat stileer.

Voorlaasjaar net voordat  sy en Piet Kongo toe is, het dit al by die basaar op Baardskeerdersbos  gegons oor ‘n man met  velklere wat sommer in die veld bly.  Op Rietfontein het ‘n paar vissermanne hom  saam met ‘n paar  plaaswerkers in die see agter die bamboes gesien.  Ook by die ou skip is hy saam met mense in die see opgemerk.  Kerneels Winkelhaak weet  te vertel dat die man by hom op die land aangekom het  en vir hom, Klaas Doppies  en Kleinjan ‘n evangelie  kom voorhou het en hulle genooi het om Kraaibosdam toe te kom waar hy hulle sondes van hulle sou afwas.  Kleinjan het later vertel  dat daar nogal baie mense onder die water gedruk is daardie dag, maar hy onthou veral  die mooi jong man met die spierwitte klere.   Die vroumense het hom onder hulle wimpers deur beloer, so mooi was hy.
Tussen waspoeier  en hot cross buns  gaan Sophia se gedagtes terug na die dag toe hy oor hulle eie  werf aangekom het kombuisdeur toe.   Sy was onmiddellik op haar hoede, maar stom van verbasing  toe hy ongeërg  by die twee Rottweilers op die grasperk verbystap  en nie een van die diere  reageer nie.  Die  fynbos van die Strandveld het aan hom vasgekleef  en   bruin bergwater het  blink in sy sagte oë gekabbel oor  die bokspoorpaadjies van sy songebrande gelaat.  Sy moes net eenvoudig die sifhek vir hom oopmaak, sonder vrees of voorbehoud.  “Sophia” -  asof hy haar lank reeds ken -  “ Ek weet jy en Piet gee gereeld van jul aardse besittings  en geld aan die talle organisasies waaraan julle behoort,  maar binnekort gaan hier ‘n man in die Strandveld aankom wat  meer, maar tog ook baie min van julle gaan vra.  Julle moet hom volg soos ‘n kind sy vader volg. “   Toe sy dit aan die etenstafel vir Piet vertel,  het hy dit afgemaak  as net nog ‘n vreemdeling wat probeer profeet speel. 

Terwyl hulle in die Kongo was, het  slegs een e-pos van Lydia  melding gemaak het van ‘n  nuwe man wat die Strandveld op horings geneem het.  Met sy wit klere  en riempiesandale kon mens hom nie miskyk nie. Hy is  glo heel  sag op die oog met sy lang hare, baard en ‘n vriendelike gelaat wat  die lig van die son uitstraal.  Sy stem  is sag  soos  ‘n dagoud  lam se pels  en oral waar hy gaan, trek hy mense na hom toe aan. Mense beweer dat hy siekes  gesondmaak   en wonderwerke  doen.  Blykbaar  het die Polisie hom reeds verskeie kere verwyder van plekke waar hy vir mense ‘n aanstoot was.  Hy verdwyn  dan om net later op ‘n ander plek in die omgewing  sy verskyning te maak. Hy oornag sommer by enigeen, ongeag  hoe eenvoudig die woning of hoe karig die kos. Op Buffeljagsbaai  het hy  almal wat in en uit die water was  kos gegee  van net ‘n paar vissies en brood.   Sy volgelinge  word  by die week meer  en hy het dit selfs gewaag om mense by Romansbaai  te gaan doop.  Terselfdertyd is daar ook mense wat  met hom die spot dryf en hom selfs vloek  wanneer hy in die publiek  staan en preek.  Hy staan egter vas daarby  dat Hy hier  sal bly totdat Sy taak afgehandel is,  hier in die Hawe van God se Genade.

Dit is reeds na twee toe Sophia besig was om haar haarstilis te betaal. ‘n Opgeskote seun kom uitasem ingehardloop. “Hulle het hom aan die kruis vasgemaak  daar naby Grootbos!”   In die motor  verduidelik die seun:  “Dis die man met die wit klere.  Hulle sé as hy nie wil hoor nie, sal hulle hom ‘n les leer.  Oom Jaap Kierie het hom gister gesien berg uit gaan. Hy het lank daar by die letters van Gansbaai  gesit, maar oom Jaap weet nie wat hy gedoen het nie.”  Toe  sy haar voertuig van die teerpad  af stuur,  trek digte wolke ‘n grou kombers  oor  die  berg. 
‘n Skemerte  vou die Strandveld toe.  En toe begin  die hemel  ween.  Eers swaar druppels van  hartseer oor  hulle  wat  verkies het om nie te glo nie, maar later ook sagte trane van blydskap  oor die handjievol  siele wat  die velleman  se boodskap  ter harte geneem  het  en bly wag het op   die man wat al hulle sondes  op sy skouers gelaai het.

Carien Badenhorst