Moenie worry nie, Magrietha

Ek kan nogal vreeslik ongemaklik raak wanneer ek in iemand se huis instap en alles is skouhuis-perfek. Dit is ‘n swak skakel – een van heelwat – in my DNS. ‘n Ander swak skakel is die lekkerte om iemand wat ek jare gelede laas gesien het, raak te loop. As die persoon dit regtig werd is, sal ek in ‘n lang aandrok oor ‘n ouditorium se stoele klim om te gaan groet. In kombinasie het hierdie swakhede my al vele oomblikke van genot, sowel as weemoed laat beleef.

So gebeur dit dat ek ‘n vriendin wie, nie net op skool nie, maar ook in my latere jeugjare baie dierbaar was, tussen die rakke van die supermark raakloop. Met ‘n broertjie dood aan ‘n geselsery aldaar, maak ons ‘n afspraak vir koffie by haar huis. Ek is soos ‘n kind wat vir die eerste keer Sondagskoolpiekniek toe gaan.

Magrietha se tuin lyk ook maar soos myne – in ‘n gedurige proses om volwaardig tuin te word. Dit verwelkom my met die herinnering aan die tuine van ons ouerhuise.  Nie een van ons het ryk ouers gehad nie. Ook nie heel arm ouers nie. Ons was maar net ekonomiese klas. Toe sy die deur vir my oopmaak, is sy steeds gerok en gepolvy soos die oggend en haar grimering is duidelik onlangs verfris. Hene, Griet, dink ek, dis vieruur in die agtermiddag en dis Gansbaai hierdie. En dis net ek, wie destyds saam met jou kaalvoet in die onderdorp se watervore geloop het.

Aan die anderkant van die drumpel, met elke tree dieper die voorkamer in, ruik ek ‘n mengsel van meubelpolitoer en vlieëgif. Die gordyne is oral dig getrek teen die heerlike herfssonnetjie wat buite begin koelte trek. Die meubels is alles strepiesreguit, horisontaal sowel as vertikaal en ek kon sweer as ek ‘n maatband neem, meet die eetkamerstoele presies dieselfde spasies tussen-in. Klein matjies bedek die volvloermat daar waar gereeld geloop word. Dit voel asof ek soos ‘n padda van platblaar na platblaar op ‘n visdam moet spring. Daar is nie eens ‘n koerant op ‘n sytafeltjie nie; nog minder ‘n leesboek op die tafeltjie onder die mooi groot leeslamp wat bokant die Lazy-boy uittroon nie. Geen teken van lewe. Soos ‘n grafkelder waar ‘n gebalsemde persoon van aansien in staatsie lê, hande gevou, wagtend vir mense om na hom te kom kyk. Want kyk is al wat hulle uit hom uit sal kry. Nie eens ‘n oog van erkenning sal hy hulle kant toe knip nie. Net toe-oog daar lê om gesien en geruik te word.

Toe sy ‘n kas oopmaak en  fyne blommetjies koppies en pierings uithaal, keer ek haar. “Nee, Griet, los maar daardie vir ‘n ander dag. Gee sommer ‘n beker en ons sit sommer hier by die toonbank. Ek wil gesels, met my elmboë op die blad, as jy nie omgee nie.”  Dit lyk nie eintlik asof ek haar ‘n guns doen nie.  “Hoeveel kleinkinders het julle, Grieta?”  Daar is sewe van hulle. Pietman het spesiaal ‘n woonstel aan die agterkant van die huis gebou vir wanneer hulle kom kuier. So spaar sy darem haar huis. En hulle weet ook hulle kan nie almal gelyk kom kuier nie, want dan is daar nie plek in die woonstel vir almal nie.

Pietman hou hom bedags in sy werkkamer besig. Hy het daar ‘n stort en toilet ingebou, want hy mag nie met sy vuil klere en vuil voete in die huis kom nie. Arme Pietman, dink ek, kry seker sy middagete in ‘n blikbord en sy koffie in ‘n blikbeker by die agterdeur. “En jy, Grieta, is jy nog so kunstig met naaldwerk en hekelwerk? Ons het darem ure omgesit met ons handwerk, onthou jy?”  Nee, sy doen glad nie meer sulke dinge nie. Sy doen maar haar huiswerk en dan lees sy so ‘n bietjie.

Magrietha – asseblief nie meer Griet nie – sê haar huis hou haar heeldag besig. Sê nou haar huis is deurmekaar en sy kom iets oor of sy gaan dood?  Ai, Magrietha, jy hoef nie te bekommer oor doodgaan nie; jy is lankal dood, jy weet dit nog net nie.

Carien Badenhorst