Die Vlieg en die Kameel

Ek weet nie eens hoeveel vlerke en hoeveel pote hulle het nie. My dae van biologie is oertyd al verby. Of hulle oë saamgesteld of enkel is, skeel my nie. (Al wat ek in my lewe  saamgesteld wil sien is rente op beleggings.) Dat die groen geledere nou hulle lof besing as sodanige reinigers en die nuwe ekologiese helde, vertrou ek aan hulle alleswetende en eksperimentele sorg toe.

Vir my bly ‘n vlieg ‘n irriterende, kiemdraende, ongedierte-like insek. Waar het hulle nie oral gesit voordat hulle op my kombuiskas kom sit en gesigwas nie. En dit nogal met hul drekbesmeerde pote. Sies! Is hulle net dom, of is dit arrogansie waarmee hulle al in my gesig kom fladder sodra ek in die middag met ‘n boek op die bank gaan lê? Hulle het geen respek vir Target Mortein of ‘n vlieëplak nie; inteendeel, dis asof hulle my net erger koggel wanneer ek met hierdie ammunisie gewapen is.

Ek verlang na die dae toe vertrekke nog deure had. Toe ‘n mens na drie spuite Coopers die deur kon toetrek en verseker weet jy was ten minste vir ‘n etmaal vliegvry in daardie vertrek. Met alles wat deesdae oopplan moet wees, het hulle die hef in die hand. Hulle lag omdat hulle weet niemand gaan drie blikke gif in een vertrek uitspuit nie. Buitendien word die vlieëgif deesdae vervaardig vir kontakgevegte. Amper soos die wapenwet wat bepaal die misdadiger moet eers lyflik raak voordat jy jouself kan verdedig. Die vlieg moet eers aan jou kom lek en skrop sodat jy hom kan vashou om die gif bo-op hom te spuit.

Weersinwekkend soos wat hulle is, kry ek deesdae toenemend te doen met die alfa-vlieë: hulle wat my psige kom bemors. Hulle kom zoei-zoei sommer in ‘n gesprek sodat ek skielik vashaak by ‘n eenvoudige woord of by ‘n bekende mens se naam.  Hoe meer ek met my arms in die lug swaai om hulle te verwilder, hoe harder zoei hulle totdat ek naderhand die aftog blaas met “Ag, dit sal my later byval.” 

Watter waarde hulle heg aan ‘n liasseerstelsel, sal net hulle weet. Pas drie weke gelede het ek alles wat nog in ‘n vakkie of laaitjie gelê het, in lêers gesit. Elke lid van die gesin s’n apart. ‘n Aparte plastieksakkie vir elke afdeling vanaf geboortesertifikaat tot en met die nuutste bankstate.  Maar toe ek eergisteraand na ‘n SARS dokument soek, is daar niks van SARS in die lêer nie. Alhoewel daar net een plek is waar hierdie lêers gehou word, moes ek gister selfs in die motorhuis gaan soek, want, daar is ‘n ander vlieg ook hier in my huis. 

Dis een van daardie klein, halsstarrige vliegies wat sommer by mens se neus wil in, daar waar hy minstens van alles nodig het om te wees. Hierdie vliegie verontagsaam sy eie wet dat die soldervertrek my uitsluitlike habitat is en gaan sluip dan sporadies daar rond om die “wanorde” te herstel.  So beland van my geordende en gesorteerde wanorde in kratte in die motorhuis. Gewoonlik op die hoogste rak waar ek dit nie kan bykom nie, omdat daar, weens sy eie opgaargoed, nie ander plek daarvoor is nie. En om daardie vliegie dan te konfronteer is net so goed as om Target in ‘n byenes te spuit.

Gelukkig was die SARS dokument nog op die rekenaar en ook op ‘n geheuestokkie geberg, maar toe kom trap ‘n ander vlieg vandag weer my siel. My hele dag se beplanning weerlig gewoonlik voor my half-wakker verstandsoog verby in die vroegmôre. My dorpslysie is nou lank genoeg dat dit ‘n rit dorp toe regverdig. Vandag. Saam met die volkome ontwaking kom die golf van frustrasie dat dit my derde voertuiglose week is  as gevolg van die honderd en vyftig duisend kilometer diens. En net daar knak die kameel se rug onder die trap van ‘n vlieg se (hoeveel?) pote.

Ek trek al die gordyne toe, ignoreer die huis, wasgoed en gisteraand se skottelgoed in die droograk, sluk ‘n pil met ‘n beker heuning-en-kaneeltee en gaan klim in die bed. Net een dag sonder Target, Domestos en Clean and Kill doen soms wondere vir ‘n vlieggetrapte siel.

Carien Badenhorst