Kinders en Katjies

Die man met wie ek my persoonlike spasie deel kan soms met die kostelikste sêgoed na vore kom. Ondeurdag, onbepland  en soms in smartdragtige oomblikke. Soos die keer toe hy vir ‘n vriend wat pas ‘n baie groot operasie ondergaan het, sê: “Jy moet net oppas, as jy nou val,  gaan jy in tjops val” gegewe al die ander kleiner operasies toe al reeds op Vriend se meslys. Omdat mens so na aan mekaar leef, onthou jy nie alles nie, want dit is maar deel van sy samestelling, maar eintlik moes ek lankal reeds begin het om hierdie uitinge te notuleer.

Sy mees algemene gesegde is egter: “Kinders (soms kindertjies), katjies en ou, vet vroue.”  Waar hy aan die laaste deel van hierdie uitdrukking kom, weet ek glad nie; dit moet ‘n vlug van sy verbeelding wees, of dalk ‘n fantasie wat hy heimlik in hom ronddra?  Ek vra ook nie, want ‘n man se fantasieë moet jy as vrou maar so min as moontlik van kennis dra. Dus gun ek hom maar daardie plesiertjie.

Wat ek wel verstaan is die kinders en katjies gedeelte, want dit is waarom sy werfbestaan wentel: Sy kinders, kleinkinders en sy katjies. Toe hy Sondag die tweede laaste katjie ter ruste gaan lê – ons het hier ingetrek met sewe – wis ek dit raak nooit vir hom makliker nie. En toe hy vir die langslewende Spikkels aka Cockeye sê: “Nou toe, jy is nou die laaste en dan nooit weer nie!” weet ek hy bedoel elke woord daarvan. 

Later, terwyl ek Bobby se begrafnisbrief saamstel om haar heengaan op faceboek te deel met vriende wie haar ook geken het, kry ek self ‘n ongemaklikheid agter my oë. Sy, ‘n Silver-tipped Chinchilla, was ons  mooiste kat.  Saam met haar het ek die outobiografie van Prinses Gourielli, oftewel Helena Rubinstein, gekry omdat  Bobby sodanig haar reïnkarneerde siel sou rondgedra het.  Dit het my maande geneem om die boek klaar te lees, maar ek is bly ek het, want dit was inderdaad so: die paralelle was verstommend. Met haar  perfekte swart  omlynde oë was sy ‘n salon-skoonheid.  Haar wit pels met die liggrys kragie was koninklik en haar voorliefde om gewas en geborsel te word,  van adellike afkoms. Bobby was ‘n diva in haar eie reg en soos Helena het sy besluit om uit te styg bo die lewe van ‘n winkelier se dogter.
Selfs in deursettingsvermoë  en beskerming van dit wat hul eie was, was hulle sielsgenote. Bobby het geen onreg verdra nie. Ook geen verontagsaming van haar reëls nie. Statig en waardig soos sy was, moes mens en dier vir haar padgee.  Die onderonsie wat sy oor twee dae met ‘n uitgegroeide boerboel gehad het, het my herinner aan Helena se  mededinging met Elizabeth Arden.  Op dag een het sy die hond, wat binne die ongemerkte grense van ons erf geloop het, stormgeloop. Sy wou hom net laat verstaan as hy nie weet waar die grense is nie, dan weet sy dit ten minste. In die frons tussen haar oë kon ek haar gedagtes lees. Die volgende dag toe Boel weer verbykom, hierdie keer nader aan die huis, was Bobby met een sprong, soos ‘n veerpyltjie, vas teen sy flank. Boerboel het die boer uit hom geskrik en met  Bobby wat bly hang, al tjankend die veilig van die straat opgesoek. Eers daar het Madame hom gelos.

Soos Helena was Bobby ‘n “go-getter” en kon vanaf ‘n lêende posisie maklik ‘n voëltjie een en ‘n half meter bokant haar kop uit die lug raap.  Ook hul waagmoed was dieselfde. Bobby het op ‘n koue winteraand gaan warmte soek onder die modderskerm van ‘n voertuig op ons erf. Of sy so vas geslaap het en of sy plein hardegat was, sou net sy weet, maar die insittendes van die voertuig het haar fyne hulpgeroep eers by die derde stopstraat in die dorp gehoor. Vier kilometer, waarvan ‘n stuk grondpad, moes ‘n nagmerrie gewees het, maar sy het bly klou.  

Soos ‘n getroue kamermeisie het ek Haar Hoogheid bygestaan, afgespons en probeer mooi en waardig hou tot die einde sodat sy en Helena met blink pelse hul aardse herinneringe kan deel. Koninklik.

Carien Badenhorst