Die Mishoring Sing

Die mishoring blaas ‘n eentonige, klaende waarskuwingsnoot.  So melancholies dat die honde begin saamhuil. Ek bly vyf kilometer van die beuel af en telkens waanneer ek die geween hoor, wonder ek: kan dit waar wees dat enige vaartuig agter op die see die gekla kan hoor?  Is dit, met vandag se tegnologie, werklik nog nodig vir ‘n mishoring? Nie dat ek dit anders sou wou hê nie, want dit is een van die geluide wat maar eie bly aan ons – en seker alle – kusdorpies. 

Baie dinge het verander, verander nog daagliks en sal in die toekoms nog verander. Tyd gaan verby; mense keer terug tot stof; karaktervolle ou huise val in vragte bourommel om plek te maak vir meer funksionele, dog minder aantreklike handelsposte; die natuur word afgekap, omgedolwe en ontwortel en hervul met beton fondasies.  Tog, ongestoord  deur dit alles, hou die mishoring elke keer ‘n vars bossie welriekende fynbosblomme van nostalgie vas wanneer die natuur hom ten hemele roep.

Sommige herinneringe is ‘n mishoring. Dis nie elkedags nie. Ook nie noodwendig welluidend nie, maar dit is steeds daar, dalk in een van die agterste hoekies van die bêrelaaitjie weggepak.  Of mens dit doelbewus uitgrawe en of dit vorentoe skuif wanneer jy die laaitjie vir iets anders ooptrek, kry gaan jy hom weer kry.

So bevind ek my onverwags midde in die misbank van twee vriende: ‘n skoolkys wat  vyf en veertig jaar gelede verkeerdgeloop het.

Ek het die storie reeds van beide kante af gehoor, maar hier sit ons om ‘n bottel rooiwyn terwyl die kwessie – vir die eerste keer, glo ek – in die reine gebring gaan word. Sy was veronderstel om die koshuis uitnaweek huistoe te gaan en natuurlik was hy veronderstel om “true love” te speel.  Wat sy nie gedoen het nie. Hy ook nie. En toe besluit albei om op Saterdagaand in Caledon se fliek te gaan sit. Sy met ‘n meisiemaat. Hy ook. Futiele foutjie.

Ek  hoor die hulle mishoring blaas en skink nog rooiwyn terwyl ek my verkneuter aan hulle onthou’s.  Die agterste bank van die skoolbus; gebankte CVS byeenkomste; hier-en-daar vrytjies. Hy spring op en stap op die stoep uit, steeds verleë oor Die Aand se uitvang in die fliek. Sy bloos steeds toe hy sê daai briefie-soen van die tweede opmaak probeerslag was die lekkerste wat hy ooit in sy lewe gehad het. Nie een van hulle onthou die inhoud van die briefie nie – so sê hulle in my teenwoordigheid. Soos ons almal maar gemaak het, het hy ook al daardie kleinoodjies gaan weggooi voordat hy getroud is.

Hoekom doen mense dit?  wonder ek hardop.  Ek onthou hoe ek voor my eie troue bo-op die solder van my ouerhuis gesit het met my skoenboks vol briefies. Wat sou die idee wees? Met die naïwiteit van die jeug het ons dit seker beskou as ‘n bewys van ontrouheid aan ons aanstaande lewensmaats?  Sê nou net my nuwe man kom oor ‘n jaar op die briewe af?  “So what?”  weet ek vandag, maar dit is dekades te laat.  Met die geestelike volwassendheid wat saam met die jare kom, gesels mens tog maar ongebreideld oor die liefdes en verlorenes van jou jeug; wat sou ‘n bondeltjie briewe tog skade doen?

Dieselfde onverstaanbaarheid lê vir my opgesluit in die  sogenaamde respektabelheid  van huweliksmaats om nie met mekaar of in mekaar se geselskap te praat oor die liefdesmaats uit hul verre verlede nie. Die bepalings van die huweliksformulier waartoe almal van my tydgenote ingestem het, eis van die man om sy vrou aan te kleef. Hoe lank die klouery aangaan, is ‘n ander storie, maar nêrens is dit ‘n voorvereiste dat alle skriftelike bewyse van of mondelikse verwysings na  vorige verhoudings verbied word nie. Tog het ons dit gedoen, amper met meer oortuiging as wat ons die huweliksbootjie betree het. 

Ongeag, sal die mishoring steeds van tyd tot tyd vir ons blaas. Soms klaend, nostalgies en mistroostig; andersins as ‘n blote herinnering daaraan dat mens se verlede van jou die mens gemaak het wie jy in die hede is. En dat alles uit die verlede tot in die hede steeds onder die beskerming van ‘n Bewaker geskied sodat ons bote nie totaal te pletter loop teen die rotse van die lewenssee nie.

Carien Badenhorst