Boom se siel

Daar is iets in die siel van ‘n boom wat hard en duidelik, sag en fluisterend met my praat. My verhouding met bome is eweneens ‘n lang en intieme een. Vandat ek kan onthou het ek hierdie fassinasie gehad.

As kind het ek my pa se vrugtebome fyn bestudeer, vanaf die stamkaal van winter tot die val van die bronsbruin herfsblare wat die stamme weer nakend ontbloot het vir ‘n koue, nat winter. Toe reeds het ek gewonder waarom die Groot Tuinier dit nie bestem het vir ‘n blarejas om die stam, die lyf van die boom, teen die ysige noordwinde te beskerm nie. Eers teen die tyd toe ek met ‘n half-grootmeisielyf begin worstel het met vrae en emosies oor my eie doel en plek op hierdie wonderlike, onregverdige aarde, kon ek stuk-stuk begin om te verstaan:  om te kan voel jy lewe, moet jy verkluim om die volgende seisoen van warmte  te kan herken. Nuwe lote en sagte, pienk  bloeisels kan alleenlik deurbreek na die lig daar waar die donkerte ‘n venstertjie ooplaat. En ‘n brose vruggie kan net tot wasdom en rypheid kom indien dit omvou en beskerm word deur blare en dorings. Die werklikheid van die pluk en die uiteindelike eenkant toe gooi van die pit, die kiem, die kern, het my heelwat later in my lewe getref. Dis toe dat ek besef het dat, al neem dit jare, ook daardie pit tot groei en tot boom sou kom – met bitter baie geluk en genade.

Die dag, ‘n geruime tyd na my pa se afsterwe, toe die meeste van die vrugtebome met hulle sterk wortels, nog so vol lus vir lewe, wreedaardig uit die aarde getrek is en hulle stamme en takke koelbloedig uitmekaar gekap en gesaag is, het ek gehuil. Soos ‘n grootmens wat nie huilend gesien wil word  nie. Daar sou ander bome wees, het ek myself getroos. En daar was.

Aan die voet van die Woesteberge by Napier was Attie en Marlene se boswerf  my Eutopia met die geur van dennenaalde wat opslaan onder my voete en die skurfte van ‘n stam teen my rug.

My Kaapse boomtuiste was in Kloofnek waar mens op ‘n sekere punt kon neerkyk op  Kampsbaai en waar die Twaalf Apostels binne armlengte oor jou die wag gehou het. Die dak was dig en dit was altyd koel, die regte plek vir  lekker en goed gesels oor lekker geselsgoed.

Jonkershoek op ‘n lui Sondag agtermiddag was ‘n heel ander boomvreugde.  Anders as die Kaap, het die son mildelik hier deur die eeu-oue blaredeksel kom lêmaak op jou lyf. Die herfs kaleidoskoop wat kom neersif op die kombers langs jou was ‘n unieke kleurespel.

Die siel van ‘n boom kan mens nie in die nag peil nie. Skaamteloos en onwrikbaar draai hy sy gesig van jou weg, steek kop onder die kussing in wanneer die nag daal; ‘n dowwe, swart kol. Ek het menige oggend vroeg met my koffiebeker onder die groot ou Minnetoka op Kleinbaai gestaan en kyk hoe die son deur die blare verhelder. Ander tye sommer net onder hom gaan lê en kyk hoe die wolke prentjies maak deur die blarevensters.

Vanoggend staan ek op die stoep binne die intieme spasie van die Kusvaalbos. En ek sien die lewe. Langs ‘n afgeknipte tak bot drie pienkerige botseltjies styf teen mekaar, onaangeraak deur die letsel wat die wond gelaat het. Die punte van die jong takke met hul bloeihofies is oortrek met ‘n meelagtige neerslag om hulle te beskerm teen die aanslag van die elemente. Laer af, waar die stam reeds dikker is, is hierdie kombers afgegooi en dra hy die nuwe groei op sterk, geronde skouers.  Die heldergroen van die digte blarejas wys na bo sodat die son die meeste skakerings moontlik daaruit kan haal om die gevleueldes tot veiligheid te nooi. Die onaansienlike vaal van die keersy wys na onder, nie uit skaamte nie, maar uit nederigheid. En grondwaarts kom stamme bymekaar om uiteindelik penwortel-stewig geanker te staan teen weerskantwinde.

Maar die beste voorbeeld en leiding wat ‘n boom bly gee is:  hy groei altyd boontoe; strek sy takarms steeds hoër en hoër na die tuiste van sy versorger, die Groot Tuinier.

Carine Badenhorst