Rekonsiliasie

As jy in die wêreld van syfers beweeg, ken jy die woord “rekonsiliasie” maar alte goed. Op die skoolbanke in die boekhouklas het ons geleer van ‘n versoeningstaat. Rekonsiliasies was my kos; ek kon nagte, dae omsit en soek na een sent wat iewers tussen lyste en rekeninge verskryf is. Dit was die goeie ou dae.

Nagenoeg twee dekades gelede het ek vir drie jaar! gesukkel om ‘n bedrag wat ek met foutiewe verwysingsnommer aan ‘n verskaffer oorbetaal het, reggestel te kry. Dit het geverg dat ek op ‘n dag heel koekoesmoedeloos e-posse uitgestuur het aan direktorate, ministers, verbruikerswaghonde en die ouditeur-generaal. Die verskaffer was boos en ek sit vir seker nog steeds op hulle swartlys, maar ten minste het dit die probleem opgelos.

Uit die daaglikse berigte van bedrog en korrupsie is dit fonteinwater-duidelik  dat  rekonsiliasies glad nie meer bestaan nie. Net so seker as wat ek is dat daar nie meer begrotings opgestel word nie en indien sporadies wel, daar geen beheer oor uitgeoefen word nie. Dieselfde sekerte wat ek het dat  onetiese rekenmeesters en ouditeure omgekoop word om nie ‘n verrotte oudit te kwalifiseer nie. Die reis-verblyf-onthaal-rekening kan mos maar gelaai word, want ook dit word nie meer versoen met die werklikheid van ‘n jaar se intekengeld by ‘n gesellinklub of ‘n Mauritius vakansie nie.

Rekonsiliasie is egter nie net syfergebonde nie. Volgens die verklarende woordeboeke beteken dit ook “om vrede te maak.” Voor die Waarheid- en Versoeningskommissie het mense gehuil en gekerm en inmekaargeval het van smart oor die onregte wat in die apartheidsera gepleeg is. Toegegee, die dinge wat daar uitgekom het, was soms hartrukkend wreed; dinge waarvan Jan Publiek nie geweet het nie; dinge wat mens plek-plek jou kop in skaamte laat sak het omdat jy jouself altyd stoere, trotse Afrikaner geag het. Hierdie onregte is weens die geheimhoudingbeleid van die regering so dig bewaar soos ‘n atoombom en dit het weliswaar met presies dieselfde uitwerking aan die lig gekom. Baie van die beskuldiges het met ‘n opregte hart “Jammer” gesê terwyl ander dit gedoen het omdat dit van hulle verwag was.

Die hele operasie van versoening is die kuberruimte ingestuur en die wêreld daarbuite het in skok en ongeloof gekyk en geluister. Die apartheidsregering is aan ‘n kruis vasgespyker om vir ewig daar te hang. Op die hoogste berg en sonder die waardigheid van ‘n begrafnis. Dit sal nooit te ruste gelê word nie, nooit toegegooi word onder die stof van verganklikheid nie.

Dat die bevrydingsregering presies dieselfde pad stap as sy voorganger, sien niemand in die buiteland raak nie. Die tuislande, eens die kulturele trots van die land, loop leeg as gevolg van ewe leë beloftes van ‘n beter lewe in die stede waar ‘n nuwe nasiemengsel ontstaan,  soekend na die goudpot wat hulle beloof is. ‘n Pot wat hulle nooit gaan kry nie omdat die een wat saam met hulle bokke opgepas het, ‘n pak klere en ‘n das aangetrek het en sy koffer volgemaak het met die geld wat vir hulle en hul families ‘n huis en werk moes voorsien. Om hierdie frustrasie te lug, kry  dwelmsmouse uit Afrika en die Ooste vrye toegang  om hulle tot hulp te snel. En saam daarmee kom die roekeloosheid om te vernietig. Enigiets. Die natuur, strukture, mensesiele, menselewens. Geen kommissie om voor te bieg nie. Vredeloos, onversoenbaar met enige waarheid. 

Op Werkersdag gaan kuier ek by my boesemvriendin van vyf en veertig jaar.  Ons gesels ‘n wil-nie-loop-nie-gesels. Tuis, in my oomblikke van stilte, verwonder ek my opnuut weer aan die enkele diep en opregte vriendskappe wat my lewe steeds verryk.  Nie omdat hulle gedurig by my is nie; inteendeel, dis mense wat ek een of twee keer per jaar sien. Maar hulle is hartsvriende. Al kommunikeer ons tegnologies, verwarm dit steeds my hart in die wete dat elke toetsbordwoord opreg is. Sielsvriende, wat onmiddelik in die kring van jou intieme wese kom nestel in ‘n oomblik van weersiens. Mense vir wie jy nie ‘n gesig hoef op te sit nie, omdat hulle reeds jou slegste oomblikke gedeel het.

Mense met wie jy kon verskil, selfs kwaad word, maar met wie jy kon rekonsilieer todat elke sent verantwoord is. Rekonsiliase-vriende.  

Carine Badenhorst