Dra jou oorbelle soos jy wil

 ‘n Mens skat jou eie omgewing meestal glad nie van genoeg waarde nie. Ons trek nie asem in vir die fynbos soos wat buitelanders dit doen nie. Enersyds omdat dit miskien oorsee meer progressief adverteer word; andersyds omdat dit vir ons maar net veld is. Soos ek, is ons ook nie almal botanies ingestel nie, nie almal stappers en klimmers nie. Laat niemand egter waag  om ons etiketteer  as blind vir die warm geel tot rooibruin kleure in winter en die koeler pienk, blou en pers kleure waarin die veld in lente en somer getooi is nie.

Omdat ek nog nooit op Flower Valley was nie en genooi is vir ‘n oggendtee daar, stuur ek my motor op ‘n Sondag in daardie rigting. Mens moet darem weet waarheen jy gaan. Ek kies die roete oor Sopieshoogte en via Uilkraal plaas en verloor myself so in die smal laninkie bome net na die skewe houtbordjie wat “Witkrans” aanwys, dat my voertig se een wiel ‘n lelike gat in die pad raaktrap. Tot veel argwaan van my  navigator en met die steiltetjie berg-uit voor my, besluit ek om om te draai.

Danksy ‘n saamrygeleentheid kom ek wel op die pragtige Flower Valley uit via die Grootbos-roete. Met die indraai na Witkrans kom ek tot die besef dat ek my te veel laat beïnvloed. Die Uikraalpad is die ver beter roete; minder en baie beter grondpad. 

Die gasspreker vir die dag is getooi in purperpers en rooi. Ek hou onmiddellik van haar waagmoed. As voorkomskonsultant sou mens reken dat sy, net soos bekende persoonlikhede, met alles kan wegkom wat Straatsannie nooit sal waag nie, veral nie in Gansbaai nie. En dan merk ek haar oorbelle op: onpaar. En ek hou nog meer van haar, want ek hou van individualiteit. Sou sy self haar halssnoer gemaak het, want die oorbelle is een wynrooi en die ander ‘n helderder rooi soos die kombinasie in haar snoer.

By die eerste moontlike geleentheid en uit die opregste hoekie van my hart komplimenteer ek haar met die oorbelle. Ek het dit eenkeer probeer – sé ek - en is vierkeer op daardie dag suutjies-diskreet daarop attent gemaak dat ek ‘n onpaar belle aanhet.  In stede van ‘n hoflike erkenning van my kompliment,  pluk die vroutjie haar juweelfoute van haar ore af. “Dit moes glad nie so gewees het nie!” sê sy al laggende. Ek is erg teleurgesteld, want ek het my reeds verlekker in hierdie alibi.

Na ‘n lekker ligte ontbyt met ‘n hemelse (te klein) slaai, bespreek sy verskillende persoonlikhede, volgens haar komende van die invloed van onse moeders. Ester, aan die een kant, is die vrou met ‘n klassieke of romantiese persoonlikheid met gepaartgaande voorkoms voorkeure. Aan die anderkant is Rut. Sy het – nie verkies nie – ook een of albei van twee persoonlikhede:  natuurlik of dramaties.  Dis hier waar sy my in die oë kyk en së: “Verskoon my, maar ek gaan jou as ‘n voorbeeld gebruik.”  Natuurlik het ek niks daarteen nie. “Jy” sê sy “gee glad nie om om uit te staan tussen ‘n klomp mense nie.”  Nee, nogal nie. “En jy sal glad nie omgee om ‘n hoed te dra nie, reg?”  Weer reg. Ek was nog nooit bang vir ‘n hoed nie, totdat ek hier kom woon het.

Juis dit is die kern van haar boodskap: dat ‘n mens moet wees wie jy is en moet dra waarin jy gelukkig voel. (Natuurlik met die kennis van watter kleure ons ten beste laat vertoon en watter style ons figuurfoute kan uitbalanseer) As vroue moet ons mekaar  aanvaar soos wat ons is en in liefde en harmonie met mekaar as individue omgaan.

As  vrou is daar altyd hoër prioriteite as jyself en raak jy vaal fynbos;  blom net af en toe by geleentheid. Dis dalk tyd om jou voertuig op die bos-en bergpaadjies rondom jou te stuur, stil te hou, op ‘n klip te gaan sit en die skoon lug en veldgeure diep  in te trek. Besin oor wie jy eintlik is. Gaan haal die kleur uit jou eie vaal veld en tooi jouself van binne en buite. Al lyk die  pad vorentoe ook hoe steil, dit mag jou dalk net nader bring aan jou eie vallei van blomme.

Carine Badenhorst