Spieeltjie Spieeltjie

...sê vir my hoe sien die ander mense my. Ai, Bobby, my kind, jy’s nog jonk, dié kan ek duidelik hoor.  Wat maak dit tog saak hoe ander jou sien? Of, maak dit werklik saak?

My geliefde moedertjie het elke aand voor die staanspieëltjie by die wastafeltjie in die badkamer gesit om haar hare in te draai met plastiek gaaskrullertjies wat nie haar kop deur die nag sou seermaak nie. En elke oggend het sy weer daar gesit om die goetertjies uit te draai en haar hare met groot presisie te skik. Van my eerste onthoudae is daar ‘n paar knyptange skuins oor haar kop vasgeknyp om brandertjies te voorskyn te bring. Die is laaste uitgehaal nadat die wit verpleegster uniform reeds soos ‘n gladde handskoen om haar lyf vasgeknoop was met die wit knopies wat aan die verkeerde kant met blink ringetjies in plek gehou is. Die hare-brandertjies is dan met die vingers nog ‘n bietjie hoër geknyp voordat dit met fyn haarsproei geset is.

Sy was ‘n mooi en waardige vrou, kreukelloos en gekrul dag na dag al het sy nooit ooit ‘n sweempie grimering gedra nie. Ek reken tog dat hierdie spieël-ritueel wat ek die beste tal van seweduisend vyfhonderd dae van my lewe moes aanskou my ‘n spieëlskrik toegedien het. Dat haar voorbeeldige lering vir ‘n vrou om altyd netjies te wees op my hart kom lé het, is ek haar voor dankbaar, maar daar is maniere en maniere. Na bewering en by geleentheid. En dit het niks te make met hoe ander mense my sien nie.

Daar is vroue wie nooit voor tienuur soggens uit hulle boudoir kom nie; nie omdat hulle laat slaap nie, maar omdat dit so lank neem om hulle vir hulself spieël-aanvaarbaar te maak. Vir ingeval die voordeurklokkie lui of die melk  opraak.  Dan is daar die vrou wat haar halfdood papegaai van sy stok sal laat tuimel terwyl sy haar hare skik om hom veearts toe te neem. By die tyd dat sy klaar is, is die voël se oë al blouwit omgedop in sy kop. Solank iemand haar net nie só sien nie. Sou daar dan nog die moontlikheid wees van ‘n reëndruppel op die vars tooisel, bly sy eerder maar binne en bid vir redding vir die papegaai se vloeklustige siel.

Hoe sien die ander mense my? Sal enigiets wat ek aan myself doen om my mooi te maak iets aan hulle persepsie verander, want persepsie is inderdaad waaroor die uiterlike gaan. Mens word beoordeel volgens jou uiterlike. Mens ontvang komplimente volgens jou uiterlike beeld: die nuwe haarstyl of die boetiek-uitrusting aan jou lyf. Niemand sê ooit: “Jy het so ‘n goeie hart onder daai pragtige trui”  of  “ Ek kan sien jou kop is reg ingestel onder die nuwe haarkleur” nie. Ure voor ‘n spieël kan daarom meer van jou eie self wegsteek as wat dit na vore bring, want hoe meer mens tittewyt, hoe meer verander jy dikwels jou eie geesteshouding. Jy raak soos jou uiterlike dit van jou verwag. 

Ek en ‘n spieël sien mekaar net by ‘n rare drie geleenthede: om seker te maak die afskilmasker is oral van my gesig af; om by rare  geleentheid ‘n gesig en oë op te sit (my lippe sit ek sommer so loop-loop aan) en om met ‘n kam en sker of kleursel in my hare in te vlieg wanneer my gemoedstoestand dit van my verlang. My selfontwerpte klere vra geen draai en swaai voor ‘n lang spieël nie – ek het trouens nie eens een in die huis nie – want die grondpatroon  het reeds  voorsien vir verbloeming en beklemtoning waar nodig.

Miskien is dit die grootste rede vir die uitstel van die badkamer se renovasie: die spieëlteëls wat een volle muur moet bedek om die plek groter te laat lyk. Ek glo nie ek sal ooit heeltemal gereed wees vir soveel blatante eerlikheid nie. My hare is nou so kort dat daar niks meer is om te versnipper wanneer daardie terugkaatsing my ook in ‘n omdop-oog papegaai verander nie. Tensy...ek ‘n pikswart slaapmasker sommer so neffens die deur hang en oor my kop glip terwyl ek oor die drumpel tree.                                
Carine Badenhorst