Seehuis bushuis

Seehuis bushuis

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

‘n Boer het nog altoos ‘n plan gehad. Dit is een van die spreekwoorde van ouds, wat vandag deur enigeen wat nie boer nie, vir die oplossing van enige beuselagtige probleempie gebruik word. Die boere raadpleeg deesdae konsultante en boekgeleerde kenners van alle nuwe ontdekkings om namens hulle te beplan. Die grond wat hulle ploeg en plant – want saai is ook al oudmodies – word ontleed om ‘n nuwe element te bevat wat kan baat by die nuutste gifstof- of kunsmis-mengsel op die mark.

‘n Halwe dekade gelede was die wêreld mos baie kleiner en mens en boer het nog met  eie verstand gedink en planne  beraam. Twee koppe was beter as een en met ‘n bottel Klipdrift tussen hulle, was hulle tog slimmer as vandag se penkoppe.

Kleinbaai was toe nog Van Dyksbaai, vernoem na die eerste grondeienaar.  Waar die geredelike, geteerde afdraand in Swartstraat nou toegang tot  kuseiendomme bied, was daardie jare ‘n steil, sanderige pad.  Daar moes jy stop, jou voertuig in eerste rat sit en die spore goed takseer voordat jy bult-af kon ry. Wanneer die suidoos té lank gewaai het, het dit die rotse blootgelê.

Die boere van die Ruggens het egter hul eie planne gehad.  Moeg van tentpenne kap teen die gedurige Desember winde, het hulle bossie gemaak en is oor die berg,  Kaap in. City Tramways het stadig maar seker die monopolie begin kry oor die publieke vervoer industrie en die kleiner busmaatskappye moes terugstaan.  Privaat maatskappye se busse is op veilings verkoop en die Spoorweë se werf was oorlopens van geskrapte, dubbeldekker  busse. Spoedig het ‘n klein, aardige konvooi van lorries, elk met ‘n bus op sleeptou, oor Sir Lowryspas en deur die Houwhoekberg  gestreep, Overberg toe.

Op die plase is die busse omgebou in seehuise. Al die geriewe is daar ingepas, gewoonlik met slaap- en sanitasiegeriewe op die boonste dek. Ook hier het Boer ‘n plan gehad, want die trappies was maar nou en steil, veral aan die einde van ‘n gesellige aand. Van die sitplekke op die onderste vlak kon dus verstel word om as beddens te dien. Vir sulke aand, sowel as vir kuiergaste.

Die trek na die staning was ‘n grootse gebeurtenis. Lorrie of trekker is ingespan om die nuwe luukse seehuis in posisie te kry op die Kleinbaai staning. Die vrouens was in hul noppies. Die dae van sanderige kospotte en skrynerige lakens was iets van die verlede. Die vensters kon oopmaak sodat die seeluggie kon deurtrek; dit kon ook toemaak teen die klamte van seesproei.

Vir etlike jare het hulle sierlik op die bultjie bokant die getypoel gehalfmaan. Die kinders kon onder oog swem, in die poeletjies visvang en op die gras vroteier speel. Perlemoen en alkruk was ‘n armlengte diep onder die rotse wat hul voorstoep uitgemaak het.  Saans  is daar kaartgespeel terwyl die kinders hulle besig gehou het met snakes and ladders en pick-up-sticks.

Om die draai regoor die baaitjie waar die visserbote lanseer het, het oom Chris van der Merwe ‘n winkeltjie aan sy huis gehad. Dit was die bymekaarkomplek van die manne terwyl hulle op die terugkoms van die bote gewag het. Witvis was panvis, maar sodra die vleis ‘n kleurtjie gewys het, moes daar vuur gemaak word. So ‘n vis het kole gevra om gaar te word.

Oom Chris was self ‘n man van planne en neffens die getypoel het hy ‘n omringde dansbaan, kompleet met ‘n put-toilet, gebou. Oud en jonk was op ‘n Saterdagaand daar.  Iemand se battery platespeler en almal se solus sewe of langspeelplate het gesorg vir die ritme. By baie spesiale geleenthede sou iemand met ‘n kitaar en trekklavier of konsertina voorgaan.

Maar toe raak Van Dyksbaai groot en kry die amptelike naam van Kleinbaai. Meer erwe is uitgesny en die standplaas het in privaat besit beland.  Van die busse is verskuif na oom Schalk Joubert se grond in Groenberg, maar ook daarteen het die dorpsraad kapsie gemaak. Ook in die privaat kampeerplek  in Franskraal se bos, was dit van korte duur.

Die buskamp-kultuur het doodgeloop. Die boere moes die knie buig en oorgee aan die witboordjie-kommando wat vorentoe ook hulle vakansieplanne sou beheer. Al wat oorgebly het is Kleinbaai se getypoel en ‘n stuk sementvloer wat skamerig bo die soutlug-grondbedekkers uitsteek.

Carine Badenhorst

Seehuis bushuis

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Florilegium Developing Story

Florilegium Developing Story

These images tell a story that we plan to share using botanical art.

Grootbos Foundation
Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary!

Gansbaai Tourism
Gans-Berg News - 24 April 2026

Gans-Berg News - 24 April 2026

This week’s edition of Gans-Berg News brings you the stories shaping our community.

Gans-Berg Nuus / News
Rescue on the Move

Rescue on the Move

Every rescue begins with a journey.

BARC Animal Welfare
Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Volunteer Hamish Philipson has been with the Grootbos Foundation for the past two weeks to learn more about the work of the Grootbos Foundation.

Grootbos Foundation
When Inner Worth Meets Outer Reality

When Inner Worth Meets Outer Reality

It is about the gap between what we expect externally…

See All Articles