Die ‘Boet van Visnette’
Besoekers en vakansiegangers sal in die loop van die volgende paar dae ‘n hele bedrywighede met ons Pelagiesie Vissersbote se visnette in Gansbaai hawe, op skoolgronde en selfs op oop gedeeltes voor wonings, gade slaan. Hierdie bedrywighede staan bekend as die ‘boet van visnette’, wat vir die vang van anjovis en sardyn gebruik word.
Die ‘boet van visnette’ beteken bloot die herstel van die visnette na ‘n jaar se gebruik op see. Spesiale breipenne is vroeër jare, voordat daar met meganisering begin is, gebruik om die visnette mee te brei of nette met groot ‘mase’ (gate) te herstel. Die ‘boet van visnette’ word deur die HAT as die “herstel en regmaak van visnette” beskryf.
Die ‘mas’ (vanuit die volksmond, maar eintlik gespel as ‘maas’) van visnette, het meer as een verklaring. Eerstens word verwys na ‘maas’ as “opening, ogie gevorm deur kruisdrade” en “ogie van fyn netwerk” - in Engels, “Twine”, dui ‘maas’ op die grootte van die gate in die visnette. Tweedens word ook gepraat van visse wat ‘ge-mas’ het. Dit is wanneer visse in die kuil van die nette moet inswem, maar dan in die net se mase (nie ‘masse’ nie) verstrengel raak. Dié visse word ‘stekers’ genoem - by Pelagiese vissers is hulle uiters onwelkom, aangesien dit 'n enorme ergenis is om die vis weer uit die nette te kry.
Ander tipe visnette wat gebruik word om aas (sardyn) mee te vang, staan weer bekend as ‘grootmas-nette’. Kortliks kom dit op die volgende neer: ‘Die boonste ry groot gate van die net word ‘ge-boet’ en dan ‘mas’ die bemanning die visnet, bedoelende hulle werk die verskillende bane aan mekaar vas’. Die interessante woord ‘seën’ word as “Seën (seëns) - visnet, zegen/seine” beskryf. ‘Seën’ is afgelei van ‘sein’ - om die ‘seën’ in te trek, beteken om die visnet met vis in te trek. Wanneer visnette gestel word om vis te ‘mas’, staan dit as ‘stelnette’ bekend. Dit is vroeër jare vir haaie, galjoene en harders gebruik, maar diè metode is lankal reeds verbode. Die woord ‘beurs’ (purse) word gebruik vir nette wat byna soos 'n beursie toetrek. Hierdie nette word vir die vang van anjovis en sardyn gebruik.
Die 7 Pelagiese Vissersbote wat tans in bedryf is (skippers in hakkies), is: Vleigans (Louis Groenewald); Berggans (Benito Groenewald); Rietgans 2 (JP Germishuys); Kolgans (Piet Otto); Stormgans (DP Fourie); Wildegans (Ian Wessels); Wafra (Peter Mannie Groenewald).
Die Gansbaai Pelagiese Vissersbedryf roep jaarliks vroeg in Desember “halt” vir ‘n welverdiende ruskans na ‘n lang en harde jaar op see - dis nou ná die herstel van visnette, asook boot-opknappingswerk in die droë dokke. Vanaf Februarie 2025 sal die Pelagiese Vissersbedryf weer slaggereed vir 2025 wees.
Hardus Botha