‘Tragiese’ dolos-verhaal van 1966
Die gebruik van dolosse om hawens teen breekwater te beskerm, is algemene kennis, moontlik ook die feit dat dit 'n Suid-Afrikaanse uitvinding is. Min mense is egter bewus van die interessante, maar tragiese verhaal, wat agter dit alles skuil - asook dat Gansbaai hawe die tweede hawe ter wêreld was wat van dolosse gebruik gemaak het. Die eerste hawe was dié van Oos-Londen.
'n Hawe-ingenieur van Oos-London, Eric Merrifield, het aanvanklik (verkeerdelik!) erkenning ontvang vir die uitvinding van dolosse - die werklike uitvinder daarvan was sy jong ontwerptekenaar, Aubrey Krüger. Hierdie was een van Suid-Afrika se mees bekendste uitvindings, wat ongelukkig nooit hier gepatenteer is nie. Uit ‘erkenning’ teenoor Merrifield, het die dolos aanvanklik as die “Merrifield block” bekendgestaan.
Latere navorsing het getoon dat Aubrey Krüger welliswaar die werklike uitvinder van die dolos was. Krüger het in 1966 ‘n opdrag van Merrifield ontvang om ‘n betonstruktuur te ontwerp om die Oos-Londonse hawe teen breekwater te beskerm. Aubrey het op sy Vespa-bromponie geklim en huis toe gery. Tuis het hy sy vrou, Daphne, vir ‘n besem gevra. Hy het die besemstok in drie dele gesaag en dit in die vorm van ‘n “H” gepak, met een van die twee bene wat hy 90° gedraai het. Krüger het ‘n prototipe ‘dolos’ gebou en dit op Merrifield se tafel gesit. Krüger se pa, Joseph, wat in die droogdok gewerk het, die kantoor op daardie oomblik binnegekom en ewe droog gesê: “Ek sien julle speel met dolosse!” (Dolosse was destyds gewild onder kinders om mee te speel en het uit aanmekaargehegte dierebene bestaan, soos ons ouer garde sal onthou). Só is die naam ‘dolos’ gebore.
Merrifield het van Krüger se ontwerp gehou en hom opdrag gegee om daarmee voort te gaan. Kort daarna is die eerste volgrootte beton-dolosse, sowat 20 ton elk, gegiet. Die drie-dimensionele vorm van die dolosse, asook die ruimte tussen die soliede stukke, versprei die energie van die branders, eerder as om dit te keer. Dit is op die rand van die breekwaterstrook van die Oos-Londonse hawe geplaas en was uiters effektief. Daarna het Gansbaai hawe, volgens oorvertellings, aan die beurt gekom, met ander Suid-Afrikaanse hawens wat gevolg het.
Die ‘dolos-nuus’ het vinnig wêreldwyd onder kusontwikkelaars versprei. Ongelukkig vir Suid-Afrika, het nie Merrifield óf Krüger ‘n patent vir hierdie uitvinding geregistreer nie. Hulle het dit as die eiendom van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawedienste beskou, wat self ook nie die uitvinding gepatenteer het nie. Maatskappye in Noord-Amerika, Europa en die Verre Ooste het die geleentheid aangegryp en het, as die vervaardigers van dolosse, die voortou geneem.
Merrifield is in 1972 na Japan gevlieg waar hy vir Krüger se ontwerpte dolosse met die Jaarprys van International Shell Design vereer is. In 1975 ontvang Merrifield, onregverdiglik, ‘n Goue Medalje van die NSTF vir ‘sy’ uitvinding. Aubrey Krüger het later as 'n eenvoudige pensionaris naby Port Alfred afgetree, waarna hy later na Port Elizabeth verhuis het. Ná die ontnugtering van Merrifield se leuens, is Krüger enkele weke voor sy dood op 81 jarige ouderdom deur die Suid-Afrikaanse Munt vir sy uitvinding vereer. Twee spesiale silwermuntstukke, ‘n R2 en ‘n 2½c, met Krüger se dolosse daarop uitgebeeld, is ter ere van hom gedruk. Aubrey se seun, Ross Krüger, vertel dat die muntstukke by sy pa se siekbed aan hom oorhandig. “Ons was almal in die kamer en my pa het die munte, sonder om ‘n woord te sê, styf in sy hand vasgehou en nie lank daarna is hy oorlede,” het Ross gesê, met sy familie wat baie trots was op Aubrey se kosbare nalatenskap.
Hardus Botha