Verlede week het ek die gevoel beskryf wat jy ondergaan met die vang van geelstert. Ek het per abuis toegelaat dat ‘n paar geelbekke ook in die boot beland. So werk dit nie gewoonlik nie. Jammer vir die fout.
Die water het gesorg dat jy jou seetoegaan-dae versigtig moes beplan, gevolglik het bootvangste daaronder gely. Die manne met die lang stokke word nie so baie daardeur beïnvloed nie en ‘n galjoen of twee het gesorg dat die braairoosters nie te veel roes nie. Indien jy ‘n register het met die afgelope jare se vangste is jy gelukkig om te kan bepaal watter patroon daar met die vangste was en watter vis gedurende watter maand behoort te byt. Dit is presies wat ek gedoen het.
Dis natuurlik geen geheim dat die vangste jare terug baie beter was as die huidige nie en met die analise gemaak was dit weer eens duidelik. Maar die idee was om te bepaal wat byvoorbeeld in Meimaand (1999 - 1213) gevang was en hoe dit nou van toepassing sal wees. In die tydperk om en by 2001, 2002 is, indien ek dit so mag uitdruk, gemors (jammer, dis nie die regte woordkeuse nie, maar dis baie naby daaraan!) met veral geelbek, terwyl kabeljou ook baie prominent was. Die ander vis wat aangekeer was laat jou ook kwylbek, want romanne, vet hotties, rooivis, steenbras, snoek en silwervis is beslis nie te versmaai nie. Die realiteit is egter dat jy nie heeltemal op statistieke kan staatmaak nie.
Luister gerus na die omie wat die wind en weer dophou en sy eie gevolgtrekkings maak, baie maal is dit beter om sy raad te volg!
Groete, Seemeeu