White Shark Projects se span onder leiding van Karla van der Westhuyzen, het op 22 April 2014 (jaarlikse Aarddag/Earth Day), 6 Witpeerbome by Masakhane Créche geplant.
“Die bome is deur Melissa Krige van Platbos Forest aan ons geskenk en dit was ‘n groot gebeurtenis vir die kleuters,” vertel Karla. “Ons het ook gereël vir ‘n praatjie met die kleuters om seker te maak dat hulle reeds op hulle ouderdom kennis neem van die belangrikheid van bome en die rol wat bome speel.” Elke kleuter was ook die trotse ontvanger van ‘n T-hemp, terwyl speletjies met hulle gespeel is en lekkernye ook uitgedeel is. Die op-en-wakker span wat die bome geplant het en die kleuters aan die gang gehou het, is Karla, Inge en Sandy, asook vrywilligers Sam, Toby, Katie, Robert en Sylvia van White Shark Projects.
Aanvanklik is Aarddag op 22 April 1970 deur Senator Gaylord Nelson gestig as ‘n bewusmakingsveldtog vir lewe op die aarde, wat kommer oor die ekologie, lug-, water- en grondbesoedeling ingesluit het. In 1978 het John McConnell die amptelike stigting, Earth Day, geïnisieer wat deur die Amerikaanse antropoloog, Margaret Mead ondersteun is.
Die viering van Aarddag, ook in Suid-Afrika, gaan gepaard met die plant van bome, vullisverwydering langs paaie en verskeie herwinningsprojekte. Foto’s is deur Karla van der Westhuyzen geneem.
Hardus Botha