Internasionale Brandweerdag is op Saterdag 3 Mei met ‘n reuse-saamtrek van Wes-Kaapse brandweereenhede en reddingsdienste op Hermanus gevier.
Brandweervoertuie en –personeel van die distriksmunisipaliteite Overberg, Weskus, Eden, Kaapse Wynland, Stad Kaapstad en die plaaslike owerhede van Overstrand, Stellenbosch, Drakenstein, Breede-vallei, Langeberg, en Hessequa het aan ‘n optog en demonstrasies deelgeneem. Ook spanne van die Nasionale Seereddingsinstituut en die Wes-Kaapse Mediese Reddingsdiens was teenwoordig. Ingesluit by die program was ‘n spanuitdaging wat deur die Eden-distriksmunisipaliteit gewen is. Drakenstein het die prys vir spangees gekry en Overstrand het sy naam die beste uitgebeeld. In ‘n kort erediens deur kapelaan Robson is die laaste eer bewys aan brandvegters wat hul lewens die afgelope jaar verloor het.
Volgens Overstrand-burgemeester Nico-lette Botha-Guthrie is brandbestryding die naas-gevaarlikste beroep in die wêreld, maar diegene wat daarby betrokke is het dit as ‘n bestaansnorm aanvaar en put vreugde daaruit om lewens te red, beserings te verhinder en rampe te voorkom. Elke edele saak in die geskiedenis is gerig deur die basiese oortuiging dat daar goedheid in die mens is. In die poging om lewens en eiendom te red, moet hoë vlakke van diens gehandhaaf word en dit verg toewyding en betrokkenheid. In die proses doen brandweerpersoneel jare van self-ontwikkeling en ervaring op. “Dit is nie ‘n normale werk nie, maar eerder ‘n lewenswyse waarvan die waardes in jou hart vasgelê word. Die selflose dapperheid en integriteit van ‘n brandweerman word nie maklik deur ander verstaan nie en die algemene publiek is nie bewus hoe gedrewe die brandvegters is deur hul geloof in die mensdom, selfs onder die moeilikste van omstandighede nie,” het sy gesê.
Die Burgemeester het die hoop uitgespreek dat die verrigtinge van die dag beter begrip sal bevorder van wat dit verg om ‘n brandvegter of ‘n noodspesialis te wees.
Die Hangklip-area was sterk teenwoordig en Pringlebaai se brandweerwa was ook ‘n prominente deel van die uitstallings.
Wendy Tawse van Bettysbaai sê die dag se gebeure het haar beïndruk. “Ek glo dit kan net elke jaar groei en beter word.”
SSMA/Fanie Krige
Foto 1: ‘n Indrukwekkende drilvertoning is deur die Working On Fire-span gelewer.
Foto 2: Twee ou strydrosse van brandbestryding in Overstrand, Joe Schoeman en Riaan Jacobs, het die dag terdee geniet.