Stephanus Albertus Kilian (45), bekend as Fanie, is op Sondag, 1 Junie 2014 weens ‘n anorisme oorlede.
Fanie was sedert 2001 aan die SAPD se Speurtak verbonde en sedert Mei 2012 as Adjudant Offisier in Gansbaai SAPD se Speurtak tot en met sy afsterwe.
Fanie is op 7 Januarie 1969 in Pretoria gebore en het 21 jaar gelede in 1993 by die Polisiediens aangesluit. Na sy opleiding is hy na die Hercules Polisiestasie in Pretoria uitgeplaas. Hy is met René in die huwelik bevestig en die egpaar het hulle in Kleinbaai gevestig.
Fanie sal veral deur sy kollegas en vriende gemis word en sy afsterwe laat ‘n groot leemte as ervare speurder by die stasie. Op Saterdagoggend, 31 Mei 2014 was hy op pad werk toe as bystandspeurder, toe hy ‘n geweldige pyn in sy bors gekry het. Hy is deur Overstrand Medical Response behandel, waarna hy na Hermanus Hospitaal geneem is. Hy is op dieselfde dag na Vergelegen Hartkliniek oorgeplaas, waar hy die volgende dag oorlede is.
Die begrafnisdiens het vandag om 11:00 in die NG Kerk, Gansbaai plaasgevind. Die Polisie bedank almal wat sy eggenote in hierdie tyd van nood en hartseer bygestaan het.
Kapt Danie Rautenbach