Watter lang "trip" moes dit nie vir Black Leaves gewees het Worcester toe nie om daar al drie hul spanne op hul herrie te gaan kry.
Die Gansbaaiers het nou al 'n paar goeie wedstryde gespeel waarvan daar 'n paar goeies gewen was. Wat sal 'n mens nou sê van die Worcester stryd? Daar moet darem seker 'n paar goeie verskonings wees vir 'n verloorstryd of hoe? Kom ons speel oop kaarte met mekaar en kyk wat verkeerd geloop het. 'n Mens sal maar seker graag die aangeleentheid binnenshuis wil regstel maar die ondersteunende lesers publiek wil darem ook maar seker lees of hoor wat het dan regtig plaasgevind met hierdie opwindende rugbyspan van Gansbaai.
Nie een van Black Leaves se drie spanne het voltallig opgedaag nie en dit was alreeds punte teen hulle voor hulle by Worcester opgedaag het. Sou dit die ekonomie wees wat druk, beserings, laksheid of partytjies-hou? Maar een ding wat staan soos 'n paal bo water is dat hierdie manne wat daar was besluit het om vir mekaar te speel ongeag die negatiewe faktore wat hulle gekelder het.
Met min ondersteuning aan die derdespan se kant en Worcester Stadion wat begin vol pak het die onoorwonne derdespan veld gevat maar Worcester (Hamiltons) se tuisvoordeel met skeidsregter en al het die manne die aftog laat blaas. Hierdie wedstryd het heelpad wipplank gery tot op 8 punte elk voordat die skeidsregter ± 10 minute na speeltyd eers halt roep nadat Worcester die genoegsame wenpunte kon aanteken, maar hier het die manne hulle hart uitgespeel.
Met die aanvang van die tweedespan wedstryd moes van die derdespan manne maar weer diens gaan doen en die gevolg was, Worcester se groter tweedespan behaal 'n weghol oorwinning.
Die tyd breek toe aan waarna die twee grotes mekaar pak. Worcester ruik eerste bloed met twee strafskoppe (6-0). Black Leaves antwoord kort daarna met 'n strafdoel deur Brendon Dickson (3-6). Met 'n baie onervare agterlyn hier die Baai se agttal hulle goed beskerm met goeie fasette om hul agterlyn in goeie kanale te speel. Veral hier het Gavin Wildschut (Yster), Kobus (Bergbees) en Gollie Bresse geslaan. Die skeidsregter vir die dag het baie van hierdie bewegings in die kiem gesmoor en Black Leaves die rug gewys met strafskoppe teen hulle. Veral met Brendon bal in die hand is hy 'n nagmerrie vir ander spanne. 'n Mens sal meer wil sien dat Brendon en Devon Slabbert as 'n skakelpaarkombinasie ontaard. Brendon behaal ook 'n verdoelde drie deur homself vir 'n bydrae van al sy span se tienpunte. Black Leaves keer egter wel huis toe sonder enige punte in die sakkie.
Die span van die Baai geniet hierdie komende naweek 'n ruskansie voordat Hamlets van Ceres op 21 Junie tuis aangedurf word. "Come what may", die bestuurspan van Black Leaves het toe net daar en klaar besluit dit sal presies dieselfde troepe wat hul lywe op die spel geplaas het teen Worcester vir Hamlets van Ceres hier tuis op Gansbaai voor hul skare sal pak. Hierdie krygsmanne se name sal in die volgende uitgawe van Gansbaai Courant verskyn. Al die afwesige spelers (Worcester) moet hulle by die bestuur aanmeld. "Finish en klaar".
So sê Bra "G"
Foto 1: Courant Argieffoto van Black Leaves in aksie
Foto 2: Die eerstespan spog hier in hul nuwe truie wat deur Build It en H+I geborg is. Agter: Jack Jacobs (voorsitter), Morné Bradbury (afrigter), Bernard Germishuys, Ricardo Maans, Ruduwaan Preslin, Franco Fredericks, Owen Koert, Riaan Arends, Melvin Tobias, Franklin Pieters, Brian Hess, Vernon Dreyer, Michael Vermeulen (afrigter), William Swart, Johan Kruger (borg H+I). Voor: Gavin Smith, Elrich Dunsdon, Brendan Lee-Dickson, Bradwill Europa, Elias Hans, Dilano Booysen, Peter John Aploon, Eben Olyn, Steward Jacobs, Friedel Bitterhout.