Wyle Corn Swart is op Saterdag, 14 Junie 2014 in die ouderdom van 83 jaar oorlede. Hy was ‘n inwoner van Huis Breda Versorgingsoord.
Corn is op 31 Januarie 1931 in Goedvertrouw naby Gansbaai gebore. Hy het die kaap verlaat om geld in Johannesburg te gaan verdien.
Gedurende 1957 is hy met wyle Alida in die huwelik bevestig en die egpaar het 3 kinders, 6 kleinkinders en 3 agterkleinkinders. Die laaste agterkleinkind is op die dag van sy begrafnis gebore. Corn het aanvanklik by vele plekke gewerk, maar in 1952 begin hy sy beroepsloopbaan by die destydse Spoorweë en Hawens, waar hy vir 34 jaar tot en met sy aftrede in 1986 gewerk het. Hy was lief vir musiek maak en hengel. Hy was 6 jaar oud en kon nie eens ‘n trekklavier vashou nie, maar hy het dit gespeel. Oom Corn kon nie eens ‘n musieknoot lees nie, maar gee hom net so paar note op die oor, dan het hy ingeval en saamgespeel.
Die feit dat hy na die destydse Transvaal verhuis het, het hom nie sy liefde vir die see laat verloor nie. Na sy aftrede het hy na Gansbaai verhuis en was vir etlike jare ‘n lid van die Birkenhead Boothengelklub, waartydens hy met verskeie bote see toe gegaan het. Dit is ook hier waar oom Corn sy seun en dié se twee seuns leer visvang het. Tot op 75-jarige ouderdom is hy met die bote uit en meer as een keer was al drie geslagte op die boot en die kompitiesie was aan die gang. As kleinkind vir oupa wen, het oupa maar net gelag en gesê dit is omdat oupa hulle so mooi geleer het. Con is vir die afgelope 4 jaar ‘n inwoner van Huis Breda Versorgingsoord van Dirk en Eva Büchner.
Sy seun, Jurie Swart, dra graag sy opregte dank en waardering oor aan die goeie versorging wat Corn tydens sy verblyf aldaar ontvang het.
Hardus Botha
Foto: Corn Swart (83), ‘n inwoner van Huis Breda Versorgingsoord, wat onlangs oorlede is