Die twee kursusse wat deur Suster Iréne de Waal van Carpe Diem Opleiding Sentrum in Caledon gereël word, begin reeds op 14 Julie vanjaar. Kennis moet geneem word dat dit by Silwerjare Dienssentrum aangebied sal word en nie, soos op die aansoekvorms aangedui, in die Blompark Gemeenskapsaal nie.
Die volgende datums is van belang: 14 tot 25 Julie - Huisbestuur (R600) en 28 Julie tot 15 Augustus - Tuisversorging (R1,400). Praktiese opleiding sal vir die tydperk 18 tot 29 Augustus aangebied word.
Die Huisbestuurkursus behels onder andere was, stryk, diere- en plantversorging, verskeie huishoudelike etikette, ekonomiese voorbereiding van etes, selfbeeld, konflikhantering, kindersorg en veel meer. “Die Huishoudingkursus word met Tuisversorging gekombineer om studente in staat te stel om ‘n verswakte pasiënt tuis te kan versorg, wat algemene huishoudelike take sowel as persoonlike versorging insluit,” sê Iréne.
“Van die 17 studente wat gedurende Januarie tot Maart 2014 in Villiersdorp opgelei is, het 9 reeds werksgeleenthede danksy hulle opleiding ontvang.” Inskrywingsvorms is by Gansbaai Courant beskikbaar.
Suster Iréne de Waal is reeds 18+ jaar by opleiding en werkskepping in die Wes-Kaap betrokke en sy kan vir advies rakende pligte, besoldiging en werksure van Tuisversorgers, asook vir bogenoemde kursusse by 028-212-1138 of 071-125-4704 geskakel word, of stuur ‘n e-pos aan haar by carpe-diem@vodamail.co.za.
Hardus Botha
Foto: Studente wat gedurende Januarie tot Maart 2014 in Villiersdorp opgelei is