Johannes Petrus Hendrikus (John) le Roux is op 25 Junie 2014 in die ouderdom van 86 jaar oorlede. John is op 28 Desember 1928 op die plaas Hartebeeskloof (naby Baardskeerdersbos) gebore.
Hy was die kleinkind van Wessel en Sefetjie van Dyk van Gansbaai. Hy begin sy skoolloopbaan by Uilkraalskool. Gedurende sy twintigerjare werk hy as voorman op ‘n wingerdplaas in die Olifantsberg-omgewing (naby Worcester). Daarna werk John op die eilande vanaf Bird Island tot by Plum Pudding by Namibië. Daarvandaan is John na die diamantaanleg op Alexanderbaai, waar hy diamante verwerk en waar hy later as prospekteerder aangestel is om na die rykste “diamantkolle” te soek. Met sy terugkeer na sy geboorteplaas, het John by Dept Bosbou begin werk, vanwaar hy later na Lêbos, naby Hermanus, oorgeplaas is. Daar ontmoet hy sy eggenote, Cornelia (Neelie) Cillie van Stanford.
Daarna word hy na Nuweberg (naby Grabouw) verplaas en in 1977 na Franchhoek, waar hy tot en met sy aftrede in Maart 1993, gewerk het - hy het 30 jaar vir Bosbou gewerk. Na sy aftrede kom vestig John hom permanent op die plaas, Hartebeeskloof, waar hy tot en met sy afsterwe gewoon het. Hy is in die familiekerkhof op 1 Julie vanjaar te ruste gelê.
John en Neelie het gedurende Mei 2014 vanjaar hul veertigste huweliksherdenking gevier. Hulle is die ouers van Johan le Roux van Franschhoek; Marietjie van De Kelders, getroud met Theo Boshoff; Jurie le Roux, getroud met Rika van Hartebeeskloof. John laat ook 6 kleinkinders (3 seuns en 3 dogters) agter.
“Iets wat ek altyd van hom sal onthou, is sy liefde vir sy gesin, sy medemens en sy Hemelse Vader,” vertel Marietjie. “Kuiermense is nooit met leë hande huis toe nie - as hulle nie ‘n plantjie in die hand gestop is nie, was dit groente wat hyself gekweek het. Wanneer hy om die kostes daarvan gevra is, was sy antwoord altyd: ‘Dit is mos kos’,” sê Marietjie.
Hardus Botha
Foto: Wyle John le Roux van die plaas, Hartebeesfontein